2 maande gelede
G’n whites only-ding dié – prof
Pasop: Prof. Francis Hyera sê dit raak almal.  ~ Verskaf

SWART Afrikaners is nie immuun teen Covid-19 nie.

Só waarsku prof. Francis Hyera, hoof van die departement openbare gesondheid aan die Walter Sisulu-Universiteit se Skool vir Gesondheids­wetenskappe in Oos-Londen.

Hyera besweer die mite dat Covid-19 ’n Eurosentriese ding is.

Hy het beklemtoon swart mense moet net so bekommerd wees daaroor soos wit mense.

“Baie mense meen Covid-19 is ’n siekte vir wit mense. In die 1990’s het baie Africans gedink MIV/vigs tref net wit mense.

“Nie lank daarna nie het baie swart mense aangesteek en as gevolg daarvan gesterf.”

Oorsee

Hyera sê die virus het eers net voorgekom in Asiatiese en daarna sekere Westerse lande.

“Covid-19 was toe nog nie enige plek in Afrika aangemeld nie.

“Eers het net wit Suid-Afrikaners wat oorsee gereis het die virus gekry. Dis nou totdat die Hollywood-akteur Idris Elba en sy vrou siek geword het.”

Volgens Hyera panic mense omdat hulle nie genoeg weet oor wat die siekte veroorsaak en hoe ’n mens dit voorkom nie.

Hy dink ook by ons plaaslike owerhede – pres. Cyril Ramaphosa uitgesluit – is daar ’n gebrek aan navorsing en duidelike kommunikasie oor die situasie.

Ingryping

“Die grootste uitdaging is dat ons nie voorbereid is op die uitbreking wat die inlig van die gemeenskappe betref nie.”

Benewens ingryping deur die regering, pleit Hyera dat besig­hede en organisasies ’n rol speel om die impak van die pan­demie te probeer verlig.

Volgens hom kan die volgende gedoen word:

  • Besighede kan hulle werkers help om hulle gedrag te verander.
  • Skep bewusmaking oor die virus en siekte en moedig die werkers aan om die boodskap aan hulle familie en die gemeenskap oor te dra.
  • Gee finansiële bystand aan mense wat die verspreiding van die siekte help voorkom.
  • Higiëne moet verbeter word by plekke soos die vervoerbesig­hede (taxi ranks), begrafnisdienste en kulturele en godsdiensige saamtrekke.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters