4 maande gelede
Gewilde onnie sterf in hospitaal
ALMAL HUIL: Die gewilde geskiedenis onnie Randal (Colombo) Solomons (55) het die stryd teen die virus verloor.  ~ Foto Verskaf

COVID-19 het sy eerste slagoffer in Macassar gevat toe ’n geliefde onderwyser Dinsdag in die hospitaal gesterf het.

Randal “Colombo” Solomons (55), een van die Wes-Kaap se top-geskiedenis­onderwysers, het die stryd teen die gevreesde siekte in die Vergelegen-hospitaal in Somerset-Wes verloor.

Volgens sy ma, Emmerentia Dampies, is haar seun Vrydag vir die virus getoets en hy is Sondag in die hospitaal opgeneem.

Sy sê geen begrafnis­reëlings is nog getref nie.

Solomons was 23 jaar verbonde aan die Hoërskool Macassar, waar hy ook sy eie skoolloopbaan voltooi het.

In 2018 is hy deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement as een van die top-geskiedenisonderwysers aangewys vanweë sy goeie uitslae.

Ivan Frantz, die skoolhoof, sê daar heers ’n sombere atmosfeer by die skool.

Betrokke

Solomons was baie gewild onder sy kollegas, asook by die leerders.

Frantz sê ook dat Solomons by die skool se rugby en krieket betrokke was.

In Solomons se jeugjare was hy ook by die politiek betrokke en was ’n vurige ondersteuner van Azapo.

Daar bestaan nou vrese dat baie meer mense met die siekte besmet kan wees.

In die sosiale media het verskeie mense hulde aan Solomons gebring.

Hy is beskryf as ’n baie nederige mens.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters