Verlede maand
Geen land is immuun teen verwoesting
WHO director general Tedros Adhanom Ghebreyesus.
Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO.  ~ Gallo Images

DIE Eerste Wêreld-lande, die ryk lande in die wêreld, loop net so verskriklik deur onder die coronavirus.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê tereg onlangs aan joernaliste op ’n nuuskonferensie: “Dis ’n virus wat nie status ken nie. Dit kan almal raak. Ryk, arm, in die Eerste Wêreld of in ontwikkelende lande.”

Amerika is aan die voorpunt om nou hard getref te word. Pres. Donald Trump het voorheen gesê hy voorsien dat Amerikaners net ná Paastyd almal terug by die werk kan wees om die land se ekonomiese wiel te laat draai. Maar die virus steek ’n stokkie voor dié planne.

Teen gister was net meer as 164 000 bevestigde gevalle reeds daar aangemeld met New York, die geldmasjien van die VSA, wat die swaarste getref word.

Wêreldwyd was daar teen gister al sowat 803 000 bevestigde gevalle aangemeld met sowat 172 000 mense wat herstel het.

Sowat 39 000 is dood.

Klim

Spanje is nou in ’n benarde posisie soos Italië ’n paar dae gelede was met gevalle wat ten hemele klim. Frank­ryk loop dieselfde paadjie.

Italië het reeds oor die 100 000 gevalle met sowat 11 591 sterfgevalle.

In Brittanje het die virus ’n harde werklikheid geword toe die premier, Boris Johnson, positief getoets is. Landburgers daar raak nou ernstig oor lockdown-reëls.

Lockdown word reg oor die aardbol in lande aangekondig.

Die wêreld-ekonomie is sodoende tot halt geroep.

Asem word nou opgehou vir lande soos Sirië en Jemen wat in oorloë gewikkel is. Boonop is daar in die talle vlugtelingkampe wêreldwyd nie ’n realistiese kans dat social distancing toegepas kan word nie. Veral in Bangladesj se Cox’s Bazar, waar oor die een miljoen Rohinga-vlugtelinge woon, asook op die Griekse eiland waar vlugtelinge noodgedwonge soos geblikte sardientjies moet woon.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters