19 dae gelede
Gedrag skokkend
GEE WET: Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê hul stelsel is verbeter om te verseker mense jump nie meer die queue nie.  ~ Anele Mfazwe

DIE Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is gedwing om die inentingstelsel te sluit – weens skelm inwoners.

Dit het gevolg nadat gewone burgers hulle as gesondheidswerkers voorgedoen het om die jab te kry.

Die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, sê dis moontlik vir gewone mense om hulself as gesondheidswerkers voor te doen.

Volgens hom is daar mense wat in die gesondheidsdepartement werk wat nie gesondheidswerkers soos dokters en verpleegsters is nie.

Hy sê: “Die gesondheidsdepartement bestaan ook uit klerke, sekerheidsbeamptes, interns, ensovoorts. Dis mense wat nie mediese kwalifikasies het nie.

“Die stelsel het tot dusver nie ’n vraag gehad wat die aansoeker vra om te bewys dat hy of sy inderdaad ’n gesondheidswerker is nie.

“Dis hoe dit moontlik was vir gewone inwoners om entstowwe te kry.”

Cloete sê egter dié stelsel wat kwesbaar was vir hierdie soort uitbuiting, is gestop en daar is nou ’n ander een in plek wat addisionele vrae sal vra.

“Ons moet nou ekstra maatreëls in plek stel weens mense se gewetenlose gedrag,” sê hy verder.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê hy is bewus van mense wat sonder afsprake by die inentingslokale ingaan en entstowwe kry.

Winde sê daar is “twee rye” – een vir mense ouer as 60 jaar en een vir gesondheidswerkers wat met afsprake opdaag.

En dan word daar ook voorsiening gemaak vir ’n “derde ry” waar daar voorsiening gemaak vir “plaasvervangers” as die mense met afsprake dit nie kan maak nie.

“Die hoofboodskap hier is ons wil dit deurgaans ’n afspraakstelsel maak,” laat hoor die premier.

“Ons wil net vir die mense vra om asseblief geduldig te wees,” sê Cloete.

“Ons het nog nie ’n derde golf bereik nie. Ons bly egter in ’n risiko, al neem die nuwe gevalle nou stadiger toe as wat ons aanvanklik verwag het.

“Ons moet op ons hoede bly aan die Weskus, waar daar ’n bestendige toename is weens dié distrik se nabye ligging aan die Noord-Kaap.”

Vrystaat

Die Noord-Kaap is een van die drie provinsies in die land wat ongelukkig reeds te midde van ’n derde golf is.

Die ander provinsies is die Vrystaat en Gauteng.

Die provinsiale bevelraad (PCC) vergader na verwagting Sondag om moontlike strenger beperkings te bespreek wat die negatiewe impak van die derde Covid-19-golf na verwagting sal verlig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters