9 dae gelede
Gauteng se gevalle van Covid styg kwaai
AAN DIE STYG: Gautengse hospitale gaan tans gebuk onder toenemende hospitaaltoelatings weens Covid-19.  ~ Netwerk24

COVID-19 is heelwat aan die woeker in Gauteng, waar hospitaalgevalle kommerwekkende afmetings aanneem.

Meer as 3 000 mense word tans in Johannesburgse hospitale in die openbare en privaat sektor behandel.

Gauteng lei die opwaartse kurwe in Covid-19-gevalle en die verwagte derde vlaag van corona-virus-besmetting.

Die provinsie het tot op hede 471 000 gevalle van Covid-19 aangemeld – 27% van die land se Covid-gevalle.

Meer as 11 400 mense het al in Gauteng weens die virus gesterf.

Strenger

Daar is in dié stadium meer as 21 500 aktiewe gevalle in die provinsie.

Die provinsiale regering oorweeg dit tans om strenger maatreëls in te stel in streke regoor Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni.

Volgens die provinsiale regering is daar sedert 4 Junie meer as 346 000 mense teen die virus ingeënt. Landswyd is daar in die laaste siklus van 24 uur byna 6 000 nuwe Covid-19 gevalle aangemeld.

Intussen beplan die Wes-Kaapse departement van gesondheid om sy inentings­lokale dié week tot 154 te vermeerder.

Spuit

Gesondheidsbeamptes was die afgelope week fluks besig met inentings en sowat 60 000 bejaardes het hul inentings ontvang.

Diegene wat vir die spuit in aanmerking kom, maar nog nie geregistreer het nie, word ook aangemoedig om dit so gou moontlik te doen. – EWN

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters