8 dae gelede
Forensics hou sake fyn dop
AGTERSTAND: Van die 279 oorledenes by die patologiedienste tot dusver in 2021 moet 79 se naasbestaandes hulle nog uitken.  ~ Peter Abrahams

OM JOU brood en botter in die skadu van die dood te verdien, kan dodelik wees.

Die Wes-Kaapse forensiese patologiedienste probeer kop bo water hou met die daaglikse Covid-19-verwante sterftes en om hulself teen die virus te beskerm.

Deanna Bessick, woordvoerder van die Wes-Kaapse mediese nooddienste en forensiese patologiedienste, sê 1 019 gesondheidsorgwerkers in die provinsie is met die virus besmet.

“Hoewel daar infeksies onder patologie-personeel is, is die getalle stabiel met geen buitengewone toenames nie.

Sy voeg by daar is ook noue kontak met die res van die gesondheidsorgstelsel om enige moontlike risiko vir werknemers te identifiseer.

Bessick sê: “Die aantal persone wat in kwarantyn of isolasie is, het ’n impak op hul personeel, want dit veroorsaak ’n toename in druk, soos by enige ander werksplek.”

Sy noem dat hulle daagliks die infeksiesyfers van personeel monitor en daaglikse terugvoersessies hou om vas te stel waar druk ondervind word en hulpbronne kort.

“Om die risiko van infeksie te verminder, dra ál ons personeel die nodige PPE en hulle is ten volle toegerus met PPE wanneer hulle hul pligte uitvoer. Dit is belangrik om kennis te neem dat infeksies oral kan voorkom, ook in ons gemeenskappe en by die huis,” voeg sy by.

Op ’n vraag of daar ’n agterstand is, sê sy: “Van die 279 oorledenes wat sedert die begin van 2021 by die patologiedienste opgeneem is, is slegs 65 sake nog uitstaande.”

Volgens haar tel hulle onder 79 wat nog uitgeken moet word.

“Covid-19-sterftes word as ‘natuurlik’ geklassifiseer en word nie na die patologiedienste gestuur nie, maar aan begrafnisondernemers besorg.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters