23 dae gelede
Entstofprogram eers op ys
Dr. Zweli Mkhize  ~ Daily Sun

DIS nou weer terug na die drawing board vir die land se entstofprogram.

Die nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Sondag gesê die vaccine-program is vir eers op ys gesit nadat dit aan die lig gekom het dat die AstraZeneca-entstof wat laas week geland het net 22% effektief is teen die nuwe variant van die corona-virus.

Die medevoorsitter van die Covid-19-raad, prof. Salim Abdool Karim, sê egter dis nie alles doom and gloom nie.

Volgens Karim doen die entstowwe wat deur Pfizer en Moderna vervaardig is “redelik goed” teen die nuwe plaaslike variant van die virus.

Hy sê verder daar is aanduidings dat die Johnson & Johnson-entstof ook meer effektief kan wees.

“Covid-entstowwe bly effektief teen die huidige variante.

Haastig

“Die volgende ronde entstowwe sal gemaak word om die nuwe weergawe van die virus te beveg.

“Hulle sal dus klaarblyklik effektief wees teen die nuwe weergawe van die virus,” voeg hy by.

’n Mediese spesialis, dr. Ziyanda Vundle, sê die ontwikkeling van die vaccines is nie “vinnig en haastig” gedoen nie.

Volgens haar het die ontwikkeling van die entstowwe gou verloop omdat soveel mense wêreldwyd siek geword het.

Die feit dat China alle wetenskaplike inligting so gou as moontlik met die res van die wêreld gedeel het, beteken wetenskaplikes oral in die wêreld kon vinnig met toetse en proeflopies begin.

“Die feit dat daar vac­cines binne ’n jaar ontwikkel is, beteken nie wetenskaplikes het kortpaaie gevat nie.

“Dit is egter wel ’n aanduiding van hoe goed wetenskaplike tegnologie nou is,” meen sy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters