15 dae gelede
Entstof: Vroue kry inligting
PRAATJIE: Dr. Nomafrench Mbombo (regs) het die vrese oor die Covid-19-entstof van veral vroue op die platteland aangespreek.  ~ Jonathan Lestrade

MENSE dink dit is ’n middel wat hulle gaan doodmaak.

Só sê Maxine Dreyer van Loxtonvale wat onlangs onder ’n groot groep vroue van die Wes-Kaap en Noord-Kaap was wat in ’n inligtingsessie meer oor die Covid-19-entstof geleer is.

Die sessie is deur die Women on Farms Project in Stellenbosch aangebied.

Dreyer sê die sessie was belangrik omdat mense in haar gemeenskap nie heeltemal verstaan waaroor die virus gaan nie en niks oor die vaccine weet nie.

“Hulle dink dit gaan hulle doodmaak, siek maak en dat hulle die virus gaan kry, maar ek weet ’n bietjie meer. So, nou kan ek teruggaan en vir hulle presies verduidelik hoe dit werk en wat dit behels,” sê sy.

Oordra

Maria Balie van De Doorns sê net soos hulle in die verlede inligting gekry het oor TB en MIV/vigs, het hulle verwag dat hulle ook inligting sou kry oor die virus en die vaccine, maar niemand het nog aan hulle kom verduidelik wat dit alles behels nie.

“Mense in ons dorp sê sommer straight hulle gaan nie die vaccine vat nie. Hulle verstaan dit nie. Hulle voel nie gemaklik om ’n inspuiting te vat wat hulle nie mooi verstaan nie.

“Dit is presies waarom ek en ander inwoners van De Doorns hier is sodat ons beter ingelig kan wees en daardie inligting kan oordra.

“Ek verstaan nou beter wat die vaccine is en hoe dit ons elkeen kan beskerm.

“Dit is die boodskap wat ek gaan oordra aan die inwoners in my gemeenskap. As ons nie die vaccine kry nie, kan ons nie mekaar beskerm nie,” sê sy.

Balie sê intussen doen sy ’n beroep op die departement van gesondheid om verteenwoordigers uit te stuur na die gemeenskap om dinge ook aan die mense te verduidelik.

“Hoe meer inligting op ’n vlak gedeel is wat mense kan verstaan, hoe beter gaan dit wees wanneer dit ons beurt is om die vaccine te ontvang,” meen sy.

Maar nie almal is so gelukkig nie. Vir Magrieta Prins van De Doorns is dit goeie nuus dat daar ’n vaccine is, maar sy is baie bekommerd oor wanneer hulle dit sal kry.

“Oudpres. Nelson Mandela het gesê hierdie is ’n country vir almal, maar in De Doorns het apartheid nie verdwyn nie. Nou is dit dieselfde met die vaccine.

“Ons kry klaar ons medikasie aan die bruin kant van die dorp, maar as jy nou ernstig siek is, dan kry jy medikasie aan die wit kant.

“So ek wil weet – waar gaan ons die vaccine kry? Aan die wit kant of swart kant?

“Ons laerklas- mense moet altyd laaste kry en word nie erken nie. Hoekom moet ons altyd afgedruk word?

“Wat het ons dan gedoen om swaar te kry?

“Die vaccine gaan kom en kom vir almal en ander gaan gesond raak en ons mense gaan dood. So, ek wil weet: Wanneer gaan ons dan die vaccine kry?” vra Prins.

Dr. Nomafrench Mbo­mbo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het aan Prins gesê almal word deur die virus geaffekteer.

Gratis

“Daar gaan teen niemand gediskrimineer word nie,” sê sy.

Mbombo sê ook dat die entstof gratis is en niemand sal daarvoor betaal nie.

“Dit is klaar voorafbetaal deur die nasionale departement en die inspuitings sal deur gesondheidsdepartement se professionals gedoen word,” verduidelik Mbombo.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters