5 maande gelede
Entstof: Talle is slaggereed
GEMENGDE GEVOELENS: So praat mense oor die entstof.  ~ Foto ter illustrasie: Gallo iStock

DIE langverwagte Covid-19-entstof is eindelik hier, maar dit blyk daar is ’n groot getal mense wat nie daarin belangstel nie.

Son het met verskeie gemeenskapslede gesels en hulle gevra wat hulle gevoel rondom die entstof van Johnson & Johnson is.

Abduraghiem Dramat (53) van Eikendal in Kraaifontein het aan Son gesê hy dink nie dit is nodig vir hom om ingeënt te word nie oor hy nog nooit in sy lewe siek was nie.

Volgens Dramat was daar nie een persoon in sy familie wat al Covid-19 opgedoen het nie.

Hy vra: “Hoekom moet ek die vaccine neem? Ek is nog nooit in ’n hospitaal opgeneem nie. Ek het dit nie nodig nie.

“Ek het geen siektes nie en toe ek laas by die dokter was vir ’n check-up, het hy my fit verklaar.

“Julle kan gerus na my lêer by die daghospitaal gaan kyk – dis dolleeg.”

Nog ’n inwoner van Eikendal, Wilhelmina Williams, is glad nie van plan om die entstof te neem nie.

Williams sê: “Ek soek nie die vaccine nie. Daai ding gaan my doodmaak.

“Die Here het my deur die eerste en tweede wave­ gedra en Hy sal dit met die derde een ook doen. Jy moet net glo!”

Hennie Abrahams van Gabriel Court in Scottsdene sê op sy beurt die vaccine is iets goeds en almal moet dit neem.

Abrahams sê pres. Cyril Ramaphosa en Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, wat hulle laat inent het, is ’n goeie voorbeeld.

Hy voeg by: “Hulle het nie daarvan gesterf nie.

“As ek die vaccine neem, gaan ek dit vir my eie gesondheid en ander se beswil doen.

Beveg

“Hoeveel mense het nie al gesterf as gevolg van die virus nie? As die hoogste gesag van die land dit kan neem, kan ons ook.”

Martin­ (85) en Maria Williams (84), ’n bejaarde egpaar van Eikendal, sê hoewel hulle elke dag in hul huis voor die televisie sit, gaan hulle tóg die entstof neem

Die couple sê: “Ons land se gesag het hierdie vaccine vir ons gereël sodat ons hierdie virus kan beveg.”

Volgens Mark van der Heever, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, het hulle ’n bewusmakingsveldtog van stapel gestuur wat die belangrikheid van die entstof onderstreep.

Van der Heever sê: “Ons is besig om met die gesondheidswerkers te werk om die pro-vaccine-stemme na vore te bring. Video’s hiervan kan gevind word op ons website.”

In die video’s noem dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, hoekom dit belangrik is dat mense die vaccine neem.

Cloete sê sedert die eerste vlaag laas jaar in Maart uitgebreek het, is mense uitgeput en deur soveel hartseer.

Publiek

Volgens hom het hulle meer as 100 gesondheidswerkers in die pandemie verloor. Cloete sê die entstof is deel van die healing – om hoop te bring.

Lede van die publiek kan by coronavirus.western­cape. gov.za/covid-19-vaccination na die video’s gaan kyk

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters