24 dae gelede
Inentings in SA opgeskort
Die eerste fase van inentings in Suid-Afrika is opgeskort.  ~ Foto ter illustrasie: iStock

DIE inentingsproses in Suid-Afrika is opgeskort nadat vroeë wetenskaplike navorsing gewys het die AstraZeneca-enstof bied "minimale beskerming" teen die nuwe variant van die corona-virus.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondagaand aangekondig 'n span kundiges moet nou leiding gee oor die weg vorentoe met die entstof.

Inligting van kliniese proewe het bewys dat die AstraZeneca-enstof net 22% doeltreffend teen die 501Y.V2-variant is.

Mkhize sê toe die regering die entstowwe bekom het, was die kliniese proewe nog nie voltooi nie.

"Die wetenskaplikes moet nou bymekaar kom en vinnig uitwerk watter benadering ons gaan gebruik om die AstraZeneca-entstowwe doeltreffend te ontplooi," sê Mkhize.

Prof. Shabir Madhi, 'n entstofkundige, sê dit sal roekeloos wees om ontslae te raak van die entstof wat beskikbaar is.

"Daar is 'n biologiese waarskynlikheid dat die enstowwe steeds bruikbaar sal wees om teen erge siekte te beskerm," sê Madhi.

Intussen is ook aangekondig dat die enstowwe, wat verlede week in die land aangekom het, in April gaan verval.

Suid-Afrika het aan die begin van Februarie 1 miljoen dosisse van die Serum-instituut van Indië ontvang. Die vervaldatum is toe eers opgetel.

Dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van die departement van gesondheid, sê hulle is besig om die kwessie aan te spreek.

Pillay sê hulle het reeds die SII genader oor die vervaldatum en of die enstowwe omgeruil kan word vir ander.

Prof. Glenda Gray het intussen gesê die enkeldosis-entstof van Johnson & Johnson het 'n 85% doeltreffendheid teen erge of kritieke gevalle van Covid-19.

Gray sê oor die volgende paar dae gaan 'n plan aangekondig word om die inentingsproses te bespoedig. - EWN


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters