16 dae gelede
Entstof ‘kom dán’
GEREED: Dr. Nomafrench Mbombo sê aan gesondheidswerkers hulle is slaggereed om die entstofprogram uit te rol.  ~ Anele Mfazwe

DIE Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is reg om met sy entstofprogram af te skop.

Só het die provinsiale minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, gister by die Karl Bremer-hospitaal gesê.

Mbombo het met gesondheidswerkers oor die Wes-Kaapse regering se entstofprogram gepraat.

Volgens haar kan die gesondheidsdepartement se entstofprogram “so vroeg as môre” begin.

Sy sê na verwagting gaan die nasionale regering vandag 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson vaccine ontvang voordat hy oor 12 weke nóg entstof kry.

Volgens haar maak hierdie 80 000 dosisse deel uit van die trial teen die nuwe variant van die corona-virus in die land.

Sy sê die Wes-Kaap sal na verwagting tussen 13 000 en 15 000 dosisse uit dié eerste aflewering kry.

“Al dié dosisse sal wees vir gesondheidswerkers,” sê sy verder.

“Die entstof-lokale sal die hospitale Groote Schuur en Tygerberg wees.

“Diegene wat deelneem aan die trial, moet by dié sites hul entstof ontvang.

“Ons het reeds planne (vir die entstofprogram) in plek.”

Mbombo het verder daarop­ gesinspeel dat die Serum-instituut van Indië geweet het die AstraZeneca-entstof is nie effektief genoeg teen die nuwe Suid-Afrikaanse variant van die corona-virus toe hy dit aan die nasionale regering verkoop het nie.

Sy sê, sonder om spesifiek na dié instituut te verwys, dat sekere vervaardigers hul entstowwe goedkoper verkoop, moontlik wetend dat dit minder effektief is teen nuwe variante van Covid-19 wat in Suid-Afrika en ander lande geïdentifiseer is.

Wete

Volgens haar is navorsing oor die nuwe variant van die corona-virus al laat in Oktober gedoen.

Mbombo het later na die AstraZeneca-entstof verwys toe sy praat oor entstowwe wat goedkoper verkoop is met die wete dat dit nie effektief sal wees nie.

“Hoekom het vervaardigers dan veral in die middel van Januarie vaccines aan ons verkoop wat hulle (die vervaardigers) weet nie voldoen aan die eise van die variant nie?”

Son vra toe vir Mbombo of sy dink dis in dié stadium die regte tyd om die lockdown-beperkings te verlig, aangesien sterfgevalle en nuwe gevalle die laaste paar weke gestabiliseer het.

Sy wou egter nie sê of die beperkings verslap moet word nie.

Mbombo antwoord: “Of die beperkings steeds daar is of nie, dit maak nie saak nie.

“Al het jy die entstof gekry, moet jy steeds jou masker dra, jou hande was, 1,5 m weg van mekaar af bly en oorvol bymekaarkomplekke vermy.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters