22 dae gelede
Druk deur 'soos Mandela ons geleer het'
President Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa.  ~ Gallo Images

OUDPRES. Nelson Mandela se verbintenis tot die bevordering van vryheid het hom nie net die vader van ons nasie gemaak nie, maar elke nasie.

Só het pres. Cyril Ramaphosa op Mandeladag by die 18de Nelson Mandela-gedenklesing gesê.

Die gedenklesing is vanjaar weens die corona-virus vir die eerste keer virtueel aangebied. António Guterres, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, het die lesing gedoen.

Ramaphosa sê hoewel Mandela se verjaarsdag in die skadu van 'n wêreldwye pandemie gevier word, is dit ook 'n geleentheid om die oorwinning van menslike gees oor teëspoed te vier.

"Sy nalatenskap is vandag selfs meer relevant. Regoor die wêreld kom mense in opstand en neem 'n ferm standpunt in teen rassisme, ongelykheid en ongeregtigheid."

Hoewel Covid-19 lewens en lewensbestane vernietig het, sê Ramaphosa dit het ook bygedra tot die bande van solidariteit wat regoor die wêreld gesmee is.

Hy sê die uitstorting van welwillendheid is op 'n skaal wat selde in vandag se tyd gesien word.

"Ons dade van omgee en solidariteit moet ook ons samewerking versterk om die mensdom se dringendste uitdagings - soos beter onderrig, om armoede en onderontwikkeling uit die weg te ruim asook klimaatsverandering en geslagsgeweld -  aan te spreek.

"Selfs al lewe ons in dié moeilike tye, is dit Nelson Mandela wat ons geleer het om dapper te bly en deur te druk." - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters