8 maande gelede
Doodsengel in W-Kaap besig
REALITEIT: ’n Begrafnisondernemer verwyder die lyk van ’n corona-virus-pasiënt wat gisteroggend in die Stellenbosch-hospitaal beswyk het.  ~ Peter Abrahams

DIE corona-virus gaan soos ’n doodsengel voort om lewens in die Wes-Kaap te eis.

Dít ondanks die provin­siale regering se pogings om die pandemie onder bedwang te bring.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en provinsiale minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, het die Stellenbosch-hospitaal se corona-virus-strategie Maandag by hul besoek geëvalueer.

Son het by dié visit die verwydering van die lyk van ’n Covid-19-pasiënt aanskou.

Die gemoed van personeellede in die Covid-19-saal bly egter steeds positief.

Mans en vroue word in afsonderlike dele van die saal versorg.

Sommige van dié Covid-19-pasiënte is aan suurstofmasjiene gekoppel en ander haal op hul eie asem.

Dr. Richard Davids, die mediese bestuurder van die Stellenbosch-distrik, sê die tweede golf is “meer vicious” as die eerste.

Volgens hom het die hospitaal met die eerste golf een personeellid weens die corona-virus verloor. Nou is daar reeds twee werknemers wat aan Covid-19 gesterf het.

Bekamp

Dr. Davids sê die Covid-19-gevalle in die distrik staan nou by 5 012 en daar is tans 534 aktiewe gevalle.

Winde hou vol openbare hospitale soos dié doen alles in hul vermoë om die corona-virus te bekamp.

INNOVERING: Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, en dr. Nomafrench Mbombo, provinsiale minister van gesondheid, wys hoe werk die nuwe toerusting wat verpleegsters teen die virus kan help beskerm. Foto: Peter Abrahams

Hy spog veral oor hoe die hospitale regdeur die provinsie hul getal beddens vermeerder het as deel van die stryd teen die virus.

“Ons het permanente bedruimte geskep wat later vir TB-pasiënte gebruik kan word. Dis spasie wat ons ná die pandemie kan gebruik.”

Hy doen egter ’n beroep op inwoners om steeds versigtig te wees, want die Covid-19-gevalle is nog hoog en baie mense sterf steeds.

Hy sê: “Mense wat van hul vakansie terugkeer huis toe moet asseblief seker maak hulle behou hul sosiale afstand en vermy skares.

“Dis die regverdige ding om te doen teenoor die mense in die voorste linies van die stryd teen die virus­. Dis om die gevalle te help verminder.

“Dink ook aan ons broers en susters in die ander provinsies. Ek was Sondag in ’n vergadering met die ander provinsies en die syfers in KwaZulu-Natal en Gauteng is skrikwekkend.

“Ons moet vir hulle ook wys ons kán die syfers verminder. Dis die belangrikste ding wat ons in dié provinsie kan doen, en wat ons in die hele land kan doen.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters