16 dae gelede
Dominee sê dié met Covid word soos melaatses getreat
VRA MOOI: Ds. Pedro Oktober van die VGK sê mense moenie ander stigmatiseer nie.  ~ Foto Verskaf

MENSE met Covid-19 word steeds soos melaatses behandel.

Dit is hoekom sommige mense wat positief toets nie hul status wil deel nie.

Só meen ds. Pedro Oktober van die Verenigende Gereformeerde Kerk Vredendal.

“Ek kan nie verstaan hoekom mense oningelig bly en ander stigmatiseer te midde van al die inligting wat beskikbaar is nie.”

Oktober sê dit lyk asof mense dink daar is ’n stuk boosheid aan jou as jy die virus opdoen en dat jy uit die gemeenskap verwyder moet word asof jy melaats is.

“Die erns van die saak is dat enigeen dit kan kry. Nie omdat jy dit gaan soek het nie, maar op een op ander manier vind die virus sy weg.

“Álmal word geraak deur die virus.

“Ek weet nie meer wat ’n mens moet doen om mense verder in te lig nie.”

Verag

’n Inwoner van Vredendal se buurdorp Klawer het ook op Facebook uitgevaar teen die gemeenskap se onkunde.

“Ek kan nie glo hier is nog so baie mense wat oningelig en onkundig is oor Covid-19 nie. Daar is steeds mense wat andere verag, beskinder en minderwaardig laat voel net omdat hule positief getoets is vir die virus.

“Asseblief, mense, kom reg. Dit kan met enige liewe mens op aarde gebeur. In plaas daarvan, kom ons bid eerder vir die families. Dit (Covid-19) is so ’n alleen-siekte omdat ons nie bymekaar kan uitkom nie.”

Oktober sê die gemeenskap se gedrag getuig van onkunde.

“As die kerk moet ons in die lockdown die sosiale media-platform betree. Ons moet ons wend tot WhatsApp, SMS’e en Facebook om mense op te voed en in te lig.”

Hy sê die kerklui is in die algemeen nog skugter vir sosiale media.

“As die kerk dié platforms betree, kan dit meer geloofwaardige nuus in dié nuwe normale tyd oordra.”

Hy sê as mense hulle status bekend maak, kan dit die verspreiding bekamp, selfs maar dít verander nie die stigma nie.

Maret Lesch van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê die departement doen ’n beroep op mense om nie hul menslikheid in dié tyd te verloor nie.

Ondersteun

“Dit is normaal om angstig, bang en verward te voel.

“Dit beteken egter nie dat mense onmenslik moet wees en nie hul hulp aan vriende en bure moet verleen nie. Dit is belangrik dat ons veral in hierdie tyd moet saamstaan en mekaar ondersteun.

“Die mense wat die virus het, het veral nou ondersteuning nodig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters