12 dae gelede
Dinge raak effens beter in die Kaap
PLEK VAN HOOP: Die hospitaal by die CTICC is daar vir Covid-pasiënte.  ~ Melinda Stuurman

ALLES dui daarop dat die Wes-Kaap so effe stabiliseer en dat daar in sekere gebiede ’n afname is van Covid-19-gevalle.

Dít het premier Alan Winde gister versigtig optimisties in ’n persverklaring gesê.

Hy sê: “Ons spanne het behoorlik om die klok gewerk om ons gesondheidstelsels gereed te kry en seker te maak dat ons nie onkant betrap gaan word nie.”

Hier het Winde ook verwys na die fyn en vinnige beplanning wat gemaak is om veldhospitale gereed te kry.

Die grootste hiervan, die Hospitaal van Hoop,, met sy 862 beddens in die CTICC, is toe nie verniet opgerig nie.

Oorlede

Winde sê tot op hede het die hospitaal reeds 1 366 pasiënte toegelaat.

Hy sê tans is daar 139 pasiënte in die tydelike hospitaal.

Die slegte nuus is 77 pasiënte is al in die Hospitaal van Hoop oorlede.

Die Brackengate Intermediate Care Facility met 338 beddens het sover 82 pasiënte toegelaat en het tans 17. Hier was sover geen sterfgevalle nie.

Die Thusong Centre in Khayelitsha, met sy 60 beddens, het sover 234 pasiënte toegelaat, van wie 31 gesterf het.

Pasiënte sal van 10 Augustus in die Sonstraal Hospitaal in die Paarl toegelaat kan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters