25 dae gelede
Die pes broei in koue shack-lewe
CHILL! Die polisie hou ’n wakende oog oor die betoging.  ~ Mkhuseli Sizani

HOU op tyd mors en begin vir ’n slag dienste lewer.

Dít is die boodskap van woedende inwoners van die Khayamnandi-uitbreiding in Despatch aan Zweledinga Nkayitshana, nuwe streeksdirekteur van die departement van menslike nedersettings.

Die inwoners het Maandag met Nkayitshana ver­gader ná Vrydag se gewelddadige protesaksies.

Die inwoners is moerig oor 116 onvoltooide fondasies wat vir Hophuise gelê is.

Hulle het Ou Uitenhage-weg met brandende bande versper en het slaags geraak met die cops se eenheid vir openbare orde.

Die polisie, in samewerking met die metropolisie, kon daarin slaag om die sowat 200 woedende in­woners se gemoedere te kalmeer.

Die Metro het die sementfondasies al in 2013 gelê.

In 2015 het die Oos-Kaapse departement van mens­like nedersettings die projek oorgeneem en dit aan die Behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) oorhandig.

Die HDA se mandaat was om die projek met sy 479 wooneenhede te voltooi.

Politieke gevegte tussen die munisipaliteit en die HDA het die projek egter laat stilstaan.

Die HDA weier om strukture vir behuising op die fondasies te bou nadat die fondasies sy ingenieurs­toetse gedop het.

TOI-TOI: Die inwoners sê hul huidige omstandighede is vrugbare grond vir Covid-19. Mkhuseli Sizani

Ndoyisile Khonza (50), ’n inwoner, sê hulle is moeg daarvan om met die Metro en HDA oor die bou van die beloofde huise te baklei.

Khonza sê: “Hulle moet skuldig voel wanneer die polisie op ons skiet en ons arresteer, want hulle het misluk om hierdie huise aan ons te provide.

“Covid-19 is gevaarliker in die winter. Wil die Metro en HDA dan hê ons moet sterf van Covid-19?”

Thembelani Sonanzi (44) sê hy woon al sedert 2013 daar en elke winter is dit ’n koue, nat shack op sy bord.

Sonanzi kla: “Ek, my dogter en twee kinders moet in daai shack bly, terwyl daar gevandaliseerde, onbesette huise in ons area is.

“Ons leiers bly leë beloftes maak, maar ek wil nie nóg ’n jaar uitgaan deur steeds in ’n shack te bly nie.”

Simphiwe Tyukana, die wyksraadslid, het teruggekap en gesê hy is nie ’n mislukking nie.

Uitkom

Tyukana beweer: “Die probleem hier is dat die lede van die wykskomitee van hierdie projek wil benefit en huise aan hul familielede wil toeken.”

Die projekbestuurder, Khaya Panziso, sê beamptes gaan uitkom om die status van die onbesette huise te verifieer.

Nkayitshana het op sy beurt vir die inwoners kans gevra tot vandag om met behuisingsamptenare oor die situasie in hul gebied te beraadslaag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters