15 dae gelede
Dié maak jou ’n yster
LOS BOS: Ysterbos, heuningdou en kooigoedbossies is goed vir griep simptome, so glo die oumense.  ~ Keith Meyer

DIT het gehelp vir hulle voorouers toe dokters nie geweet het wat om voor te skryf vir die Groot Griep van 1918 nie.

Só glo twee pensionarisse van Kannaland wat ysterbos en heuningdou nóú meer as gereeld drink.

Ant Martha Frans vertel: “Ons voorouers het ons vertel van die Groot Griep van 1918.

“Dié virus is amper nes die Groot Griep. Die dokters kon nie meer voorbly om mense te help nie.

“Die soldate moes trense grawe om die lyke in te stoot. Dan is dit toegestoot.

“En dis toe hulle ook begin het om ysterbos te trek met heuningdou.”

Mengsel

Katriena Willemse voeg by: “Ek drink die mengsel lekker warm, dag en nag.” Sy verduidelik: “Knip die bos en laat trek hom tot hy lekker sterk is. Sommer in ’n kastrol moet jy dit kook.

“Dis baie goed vir die bors as jy sukkel met asem kry en ook vir griep. Dit help regtig vir ’n mens.

“Gooi sommer kooigoedbossies en wildeals ook by, maar ysterbos is die hoofbestanddeel.”

Volgens dié oumense het hulle nog oor al die jare heen ook hulle kinders met ysterbos en heuningdou grootgemaak – veral in die wintermaande.

Hulle sê heuningdou kry sy naam van sy soet geel blommetjies, “maar dis in die bitter takkies en blare waar die krag lê”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters