2 maande gelede
Die eerste van talle
Madeleine van Wyk.  ~ Verskaf

DIT het op die eerste dag van die lockdown by Suid-Afrikaners ingesink presies hoe gevaarlik die corona-virus rêrig is.

Onse land het Vrydag sy eerste sterfgeval weens Covid-19 aangekondig.

Madeleine van Wyk (48) van Durbanville wat by Sanlam se hoofkantoor in Bellville gewerk het, is in die Durbanville Medi­clinic aan die corona-virus dood.

Haar man het aan Netwerk24 gesê hy weet nie waar sy die virus opgedoen het nie.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het intussen bevestig dat Sherilee Jansen (28), ’n verpleegster van Mitchells Plain, nie aan Covid-19 dood is nie.

Suid-Afrika het teen druktyd 1 170 gevalle van die corona-virus gehad.

Mkhize het in sy laaste verklaring voor druktyd gesê 55 mense word tans vir Covid-19 in die hospitaal behandel. Vier pasiënte is tans in ICU en drie is aan ventilators gekoppel.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gistermiddag gesê die provinsie het nou 298 bevestigde infeksies.

Van hulle word 10 mense in hospitale behandel van wie 4 in intensive care.

Mkhize sê onder die nuwe gevalle is ’n 81-jarige vrou van ’n ouetehuis in KwaZulu-Natal. Sy is nou in ICU en ook aan ’n ventilator gekoppel.

Mkhize sê die ander bejaardes van die ouetehuis word nou as kwesbaar beskou en word getoets.

Volgens Mkhize is daar ’n styging in die aantal gevalle waar die virus plaaslik oorgedra word.

Hy sê die meerderheid van die mense wat die virus in die Vrystaat opgedoen het, was by ’n kerkdiens in Bloemfontein wat deur vyf “internasionale gaste” bygewoon is. Hulle is intussen positief getoets.

Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, Steve Swart, ’n parlementslid van die ACDP, asook Angus Buchan, bekende pastoor, wat ook die kerkdiens bygewoon het, is almal sedertdien positief getoets.

Intussen het die Springbok-legende Danie Gerber ook aangekondig hy is positief getoets vir Covid-19.

Gerber (61), wat deesdae in Blue­water Bay bly, het tussen 1980 en 1992 in 24 rugby­toetse vir die Bokke uitgedraf.

Hy het in ’n onderhoud aan The Herald gesê hy is nou net bekommerd oor sy familie. “Hulle wag nou op hulle uitslae.”

Gerber sê hy was die afgelope twee weke op ses verskillende vlugte tussen Johannesburg, Pretoria en Kaapstad.

Meer as 630 000 mense is reeds wêreldwyd positief getoets vir Covid-19. Sowat 30 000 is al daaraan dood. Byna 140 000 het al herstel – dít teen druktyd gisteraand.

Amerika het die land geword met die meeste gevalle tot nou. Dié land het teen druktyd meer as 110 000 gevalle gehad met meer as 2 000 Amerikaners wat reeds dood is.

Italië is steeds die land met die meeste sterfgevalle. Sowat 10 000 mense is al daar dood.

Dr. Precious Moloi-Motsepe het gister aangekondig dat die Motsepe-familie, in vennootskap met maatskappye, R1 miljard skenk om Covid-19 in SA te beveg en te help met die uitdagings wat dit vir die land inhou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters