2 maande gelede
Covid: Wees ekstra versigtig
raak erg: Kommer heers oor die gevalle wat aan die styg is. Foto ter illustrasie: Gallo iStock  ~ 

GROOT kommer heers nadat die Kaapse Wynland-distrik einde verlede week sy hoogste Covid-syfer (soos in Junie aangemeld) op 18 Desember oorskry het.

Sandra Martiz, gesondheidswoordvoerder, sê die distrik het in Junie 1 446 aktiewe gevalle gehad teenoor die 2 338 wat tans aangemeld is. Die styging in gevalle dui op ’n verhoogde aantal Covid-toetse wat tans gedoen word. Dit beteken meer gesondheidswerkers word hierdeur geraak en die druk op laboratoriums om die toetse te verwerk, is hoër.

Maritz sê wat kommerwekkend is, is dat meer pasiënte in hospitale opgeneem word.

Protokolle

Die gevalle is wyd verspreid in die distrik. Gebiede wat erg hierdeur geraak word, sluit in: Saron, Kayamandi, Bonnievale, Zweletemba, Ceres, die Paarl en Worcester.

Martiz maan as daar al ooit voorheen ’n tyd was om ekstra verantwoordelik op te tree en protokolle te volg, is dit nou die tyd om so te maak.

Surina Neethling, waarnemende gesondheidsdirekteur in die Wynland-distrik, sê: “Daar is spesifiek een geval wat in die sosiale media versprei is van ’n groot byeenkoms by ’n kerk waaroor ons diep bekommerd is.

“Op die foto’s kan talle mense sonder maskers gesien word wat in noue kontak met mekaar is.”

Sy maan inwoners om sulke gevalle aan te meld omdat almal nou verantwoordelikheid moet neem om hul eie veiligheid te verseker.

Hulp

Persone wat in isolasie moet gaan en onseker is oor wat om te doen, kan plaaslike gesondheidswerkers bel.

By dié nommers is ook hulp beskikbaar – Breedevallei: 079 477 7311; Drakenstein: 021 877 6513 of 079 418 9067; Langeberg: 023 626 8548; Stellenbosch: 021 808 6100; Witzenberg: 023 316 9600.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters