Verlede maand
‘Covid volop in spogskool’
BEKOMMERD: André de Bruyn, provinsiale hoof van die Educators Union of South Africa, worry oor lede.  ~ Foto Verskaf

PAARL. – ’n Larney skool hier sit na be­wering met meer as 40 leerders en personeellede wat met Covid-19 besmet is.

Leerders wat by Son kla, beweer niemand maak meer behoorlik skoon nie en die skool pas die protokolle nie meer so streng toe nie.

Die leerders sê daar is al baie Covid-19-gevalle aangemeld én mense het in self-isolasie gegaan.

’n Leerder sê: “Hier is selfs gevalle in die koshuis ook, maar die skool gaan net aan.”

Die leerder voeg by: “Onderwysers gee elke dag klas, maar die een onnie wat elke dag tussen hulle sit, het Covid-19.

“Ek weet daar was laas week altesaam 40 in isolasie. Drie koshuiskinders is Vrydag positief getoets nadat hulle huis toe was.

“Vandag is daar seker so om en by 10 tot 11 kinders huis toe.”

André de Bruyn, die provinsiale hoof van die Educators Union of South Africa (Eusa), sê hulle het ’n klagte oor die positiewe gevalle by dié skool ontvang en dis vir hulle kommerwekkend.

De Bruyn sê Eusa is baie bekommerd oor die veiligheid van opvoeders en die ondersteuningspersoneel in skole.

Hy sê dis ’n groot probleem dat niemand praat oor die probleme wat tans in skole voorkom nie en dit is vir Eusa heeltemal onaanvaarbaar.

De Bruyn sê die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het die jongste Covid-19-syfers aan sy vakbond verskaf.

Hy verduidelik: “Vanaf 1 Februarie is daar 103 positiewe gevalle onder opvoeders aangemeld waarvan 8 opvoeders en 2 opvoedkundige personeellede gesterf het.

“Vandat die pandemie in die Wes-Kaap begin het, het 109 opvoeders aan Covid-19 gesterf, tesame met 36 ondersteuningspersoneellede.

“Altesaam 39 leerders is binne 3 weke positief getoets sedert die skole op 15 Februarie begin het.

“Hierdie is net die syfers wat by die WKOD aangemeld is. Hoeveel asimptomatiese leerders woon nie tans skole by nie?

“Hoeveel skole het nog nie hul syfers deurgestuur nie?”

Oorvol

De Bruyn sê ongelukkig kan die meeste skole nie volledige PPE aanskaf nie en die skool se perseel word nie gereeld skoongemaak nie.

Volgens hom volg die leerders nie altyd die voorgeskrewe veiligheidsprotokolle binne skoolverband nie en buite die skool is baie leerders ook betrokke by hoërisikogedrag en ’n mens kan hulle gereeld aantref by super-spreader events.

De Bruyn voeg by: “Klasse is steeds oorvol en skole het nie ander opsies as om opvoeders aan lewensgevaarlike omstandighede bloot te stel nie.

“Dit is vir Eusa ’n onaanvaarbare situasie.

“Eusa voel dat opvoeders hulself eerste moet stel omdat dit lyk asof die werkgewer dit nie gaan doen nie.”

Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, vra hulle alle skole om te hou by die riglyne wat die departement aan hulle gestuur het.

Leerkragte

Hammond sê hoewel die WKOD ’n paar veranderings aan die aanwysings gemaak het, is die skoonmaak van skole, gesondheids- en veiligheidskontroles, screenings en sanitising steeds van toepassing.

Sy verduidelik: “As ’n leerder of onderwyser aanmeld hulle het die virus opgedoen, moet die skool dieselfde ontsmettingsprosedures volg.

“Daar is tans 40 aktiewe gevalle onder leerkragte in die provinsie.

“Luidens ons verslae het 39 leerders sedert 15 Februarie aangemeld hulle het die virus onder lede.”

Hammond voeg by die WKOD is tans ook bewus van twee skole in die Paarl-streek wat Covid-19-gevalle aangemeld het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters