Verlede maand
Covid tel spoed op
Die inspirerende direkteur-generaal van die Wêreld
Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus  ~ Gallo Images

COVID-19 is nie naby sy einde nie.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die wêreldgesondheidsorganisasie, het dié realiteit die afgelope week gedeel.

Hy het lande ook gekritiseer wat nie kontakopsporing-maatreëls in plek het om die verspreiding van die virus te keer nie.

“Ons wil almal hê dit moet verby wees. Almal wil aangaan met hul lewe en al maak lande vordering, tel die pandemie spoed op.”

Sy woorde het ure gekom nadat die bevestigde gevalle wêreldwyd die 11 miljoen kerf verbygesteek het.

Teen Saterdagoggend het net meer as 11 2 miljoen mense in die wêreld reeds positief getoets. Van hulle het meer as 6,3 miljoen of 56% herstel en byna 530 000 weens die virus gesterf.

Intussen het Amerika met 2,8 miljoen steeds die meeste bevestigde gevalle gevolg deur 1,5 miljoen in Brasilië. Rusland en Indië het albei meer as 600 000 gevalle terwyl 10 lande meer as 200 000, maar minder as 300 000 gevalle het. Dit sluit Spanje en Brittanje in.

Duitsland, Suid-Afrika, Frankryk en Bangladesj het almal meer as 150 000 maar minder as 200 000 gevalle.

Vanoggend was daar 30 lande met geen Covid-19 sterftes. Die lande sluit in Namibië, Fiji, Vietnam, Lesotho en Rwanda.

In Suid-Afrika was daar teen gisteroggend 6247 pasiënte in hospitale met 708 in ICU en 284 op ’n ventilator. Gauteng die meeste pasiënte in hospitale, gevolg deur die Wes-Kaap.

Ghebreyesus sê “Die oplossing is soos in die eerste dae van die pandemie: toets, spoor kontakte op, isoleer en kwarantyn.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters