Verlede maand
Covid maai onder frontliners
GEVAL: Die gesondheidsdepartement in die Wes-Kaaphet reeds 41 frontliners in die stryd teen Covid-19 verloor.  ~ Jonathan Lestrade

MEER as 3 665 mense in die Wes-Kaap het teen gister in die stryd teen Covid-19 geval.

Die voorste soldate in die oorlog teen die onsigbare vyand is ook nie gespaar nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Maart vanjaar ’n ramptoestand aangekondig en die land in lockdown gesit. In die aankondiging het hy sekere departemente as frontliners gedoop. Net dié mense is toegelaat om te werk.

Die departement van gesondheid het die meeste frontliners in die provinsie verloor. Volgens Mark van der Heever, ’n woordvoerder van die departement, het hulle tot op hede 41 werkers in die gesondheidsdepartement verloor.

Bekend

Die Groote Schuur-hospitaal, waar agt mense dood is, is die hardste getref.

Die Tygerberg-hospitaal is die opvolger met ses mense wat weens die virus afgesterf het.

Dit is nie bekend hoeveel gesondheidswerkers reeds die virus opgedoen het nie, maar in die Wes-Kaapse onderwysdepartement het 2 243 werkers sedert 22 Maart die virus opgedoen. Net 126 van dié mense het dit nog onder lede.

Altesaam 38 werkers van die WKOD het aan die virus gesterf.

“Die meeste van die mense is weer gesond,” sê Kerry Mauchline­, woordvoerder van Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys.

Meer as 490 leerders is sedert 1 Junie positief getoets vir die virus.

Geen leerder is aan die virus dood nie.

Mauchline sê veiligheidsmaat­reëls is steeds in plek, al word daar gesê die peak is verby. Die Wes-Kaapse polisie het nie teen druktyd gesê hoeveel beamptes en ander werkers die virus­ onder lede het nie. Son het betroubaar verneem die dodetal is 37.

“Die infeksies is baie, baie hoër as in Junie,” erken ’n polisiebron.

In Junie was die getal infeksies onder beamptes 1 034. Korrektiewe dienste in die Wes-Kaap het 13 lede aan die dood afgestaan weens die virus.

Die weermag wou ook nie bekend maak hoeveel van sy lede die virus opgedoen het nie.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het van die begin af gesorg dat soldate die Wêreldgesondheidsorganisasie se voorgeskrewe protokols volg,” sê kapt. Jaco Theunissen, weermagwoordvoerder.

Voorsiening

“Dit sluit in dat soldate gereeld geskandeer, gesif en dan weer getoets word indien nodig.”

Hy sê die weermag het voorsiening getref met kwarantyn-fasiliteite en die weermag het ’n lae sterfte­syfer ondervind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters