Verlede maand
Covid hou ou uit hof
FORTUIN
Moegamat Fortuin (40).  ~ VERSKAF

WORCESTER. – Moegamat Fortuin (40), wat vir moord op sy eks-girlfriend en haar laitie teregstaan, het Covid-19 in die tronk opgedoen.

Son verneem dat Fortuin vroeër ook selfmoord probeer pleeg het deur pille te drink.

Fortuin was veronderstel om Dinsdag in die streekhof in Worcester te verskyn, maar hy kon nie hof loop nie weens sy positiewe toets.

Son het vroeër berig hoe wreed Fortuin na bewering Melvinia Adler (30) en haar laitie, Jovante Adler (10), vermoor het.

Borgtogaansoek

Fortuin het die ma en seun na bewering met ’n skroewedraaier gesteek en daarna met ’n hamer doodgeslaan.

Die staat het by ’n vorige hofverskyning aan die hof gevra dat Fortuin nie eens in aanmerking vir ’n formele borgtogaansoek moet kom nie.

Fortuin het vir vorige veroordelings van ernstige aanranding ook al in die tronk beland.

Son het ook vroeër berig dat Fortuin op parool vrygelaat is toe hy ’n paar jaar tevore ook twee van sy eks- meisies gelem het.

Een van dié vroue sit vandag in ’n rolstoel weens die aanval.

Doodstraf

Dinsdag het Melvinia se familie aan Son gesê hulle is steeds in rou.

Volgens die familie wil hulle sien dat geregtigheid geskied en dat die doodstraf teruggebring moet word.

Fortuin verskyn weer op 4 Februarie 2021 in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters