Verlede maand
Covid-gevalle ‘baie minder’
NIE MEER VOL: Die hospitale in die land het nou minder Covid-19-pasiënte in ICU.  ~ Foto Verskaf

NUWE Covid-19-gevalle het landwyd aansienlik afgeneem en minder mense word opgeneem vir siektes wat aan die virus verbind word.

Van diegene wat wel opgeneem is, is 75% al ontslaan.

Dié blye boodskap kom uit die nasionale departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se jongste verslag oor wat die stand van Covid-19-gevalle in ons land is.

“Hospitaalopname in die algemene sale of in ’n hoësorgeenheid het gedaal, sowel as die dodetal. Sedert 22 Augustus het ons daagliks onder 3 000 nuwe infeksies gehad.

“Dít teenoor Julie waar daar daagliks tussen 10 000 en 15 000 nuwe infeksies aangemeld is. As ons dit alles saam oorweeg, is dit duidelik dat ons nou deur ’n golf-daling in die pandemie gaan.”

Nios sê hy’t op 11 September data van 459 openbare en private hospitale landwyd ingevorder.

Die analise van die data toon ’n duidelike verskuiwing in die “gedrag” van die epidemie.

Altesaam 66 515 pa­siënte is bestudeer. Net 4 314 is opgeneem.

Gedurende die piek van die corona-virus-pandemie het dieselfde hospitale van 6 400 tot 6 800 pasiënte per week opgeneem.

Die aantal beddens wat nou deur Covid-19-pasiënte in hospitale landwyd beset word, is minder as 10% vir pasiënte in die hoësorgeenheid en minder as 30% vir pasiënte in ICU.

“Ons het ook van Afrox verneem dat die aanvraag na suurstof aansienlik verminder het.”

AFNAME: Minder Covid-19-sterfgevalle word nou daagliks aangemeld. Foto: Verskaf

Die gesondheidsdepartement en Nios sê albei hulle hou by hul vorige verklaring dat nasionale regulasies van die inperking mettertyd gewysig sal word, indien nodig.

Kophou

“Met die duidelike afname in infeksies kan daar verslapping van sommige regulasies soos die curfew, verkope van alkohol, kerkbyeenkomste en travel kom. Ons sal die voorstelle aan die kabinet gee, wat die finale sê oor alles het.”

Volgens die departement en Nios moet mense egter steeds kophou en onthou dat daar nog geen vaccine of behandeling vir die virus is nie en dat dit steeds aansteeklik is.

“Ons moet leer hoe om met die virus saam te leef en ons moet voortgaan om sosiale distansiëring toe te pas en maskers te dra wanneer ons in openbare areas is.

“Die moontlikheid bestaan nog dat daar ’n tweede golf van infeksies kan kom.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters