26 dae gelede
Covid-geval by laerskool
NEEM KENNIS: Ouers is gewaarsku oor ’n Covid-19-geval by die skool.  ~ Foto Verskaf

COVID-19 het by nog ’n Bolandse skool kop uitgesteek.

Vlottenburg Primêre Skool se ouers is Dinsdag per brief in kennis gestel oor die stand van sake by die skool. In die brief word ouers meegedeel dat een positiewe geval van Covid-19 by die skool aangemeld is en dat mense die keuse het om hul kinders by die huis te hou.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het bevestig dat net een geval aangemeld is.

“Dit is nie ’n uitbreking nie. Die skool sal die relevante stappe ingevolge die Covid-19-protokolle doen,” sê Hammond.

Die geval kom nadat ’n ander skool wat ook in die Boland geleë is, ook deur die virus getreiter word.

Luidens mediaberigte is meer as 40 mense (leerders en onderwysers) van Paarl Gimnasium in isolasie weens die virus.

Hammond sê die berigte is onwaar.

“Die skool het sewe positiewe gevalle, waarvan net een ’n onderwyser is. Hulle is in isolasie.”

Sy sê drie leerders en een onderwyser wat ook positief was, is al gesond.

“Dit bring die totaal van gevalle by die skool op 11 te staan.”

Hammond sê die WKOD en die skool is in gesprek met die plaaslike gesondheidsdepartement.

“Ons het die skool besoek om seker te maak alle gesondheids- en veiligheidsmaatreëls word gehandhaaf.”

AAN DIE GANG: Vlottenburg Primêre Skool se onderrig gaan voort ten spyte van ’n positiewe geval. Foto: Peter Abrahams

Hammond sê hulle het gevind alle maatreëls is wel nagekom. Die skool is skoongemaak en ontsmet.

Sy sê die departement van gesondheid het aangedui daar is wel ’n toename in nuwe infeksies in die Wynland-distrik. Die gesondheidsdepartement het ook reëlings getref om ’n inligtingspraatjie by die skool te hou.

“Ons is bekommerd dat die leerders te ontspanne word ten opsigte van die goue reëls. Wanneer hulle ná skool kuier, lê hulle slap.”

Sy sê ouers wat voel die skool hou nie by die reëls nie, kan die skool by die plaaslike distrikskantore piemp­.

Volgens Hammond het 54 onderwysers in die provinsie die virus. Altesaam 110 onderwysers het sedert die begin van die pandemie aan die virus gesterf.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters