13 dae gelede
Covid eis pastor van Ladismith
TER NAGEDAGTENIS: Jan Tieties se dogter, Zenobia (links), ontvang haar pa se toga van past. Leon Prinsloo.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – Niks kan ons skei van die liefde van Jesus nie.

Met hierdie woorde het past. Jewel Jonkers, diens­leier in die AGS-Kerk, Donderdag die begrafnisdiens van Jan Tieties (58), tronkhoof in George, ingelui.

Tieties, ook ’n geordende pastoor in die AGS, is op Nuwejaarsdag oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Roerende huldeblyke het die kerkdiens opgehelder.

Colin Pedro, Tieties se boesemvriend, het hom beskryf as “ ’n besonderse, inspirerende mens, ’n pa en ’n man wat nie impress het met titles nie”.

Randall Tamboer van die AGS Dysselsdorp, waar Tieties se gemeente was, het hom as ’n groot dromer beskryf, maar ook as ’n pastoor “wat dinge laat gebeur het”.

Die rou snikke van sy dogter, Zenobia, het opgeklink terwyl ’n sangstuk aan haar pa opgedra is.

Sy seuns, Ricardo, Jonathan en Thursby, het aandagtig na die stuk geluister.

Suster Annie Lindoor van die Pacaltsdorp-gemeente het gesê: “Dit was my wens dat pastoor Tieties my moes begrawe. Maar die Here het anders besluit.”

’n Verteenwoordiger van die departement van korrektiewe dienste, Ndileka Booi, het Tieties beskryf as ’n toegewyde mens.

Past. John Plaatjies het gesê: “Ons het politiek en godsdiens gedeel.

“Oom Jan was ’n brutally honest man. Sy lewe was ’n testimony aan Christus. Hy was ’n stigterslid van Popcru en het destyds ’n sertifikaat van Madiba ontvang.”

Past. Leon Prinsloo van ’n plaaslike radiostasie het in die troosboodskap die familie bemoedig met Ps. 46.

Hy het ook Tieties se toga aan Zenobia oorhandig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters