18 dae gelede
Covid bly realiteit
covid-19
VEILIGHEID: Die dra van gesigmaskers is nou in Suid-Afrika verpligtend as jy buite jou huis is. FOTO: Jonathan Lestrade  ~ 

MEER as 16 miljoen mense wêreldwyd het al Covid-19 opgedoen.

Amerika het met meer as 4 miljoen steeds die meeste gevalle en Suid-Afrika is vyfde op dié lysie.

Met 2,3 miljoen het Brasilië die tweede meeste, gevolg deur 1,3 miljoen in Indië en meer as 800 000 in Rusland.

Suid-Afrika het onder die 10 lande met die meeste gevalle steeds die minste Covid-19-sterftes.

In Afrika is 52% van die meer as 814 000 gevalle in ons land.

Suid-Afrika en Egipte het saam byna 11 000 van die meer as 17 000 Covid-19-sterftes.

Uganda het dié week sy eerste Covid-19-sterfte aangemeld, terwyl die Seychelle en Eritrea nog geen Covid-sterftes het nie.

Intussen sê prof. Adrian Puren, van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) dat ’n ouer persoon met onderliggende toestande nie noodwendig weens Covid sal sterf nie; dié persoon se risiko is wel hoër.

“Dit bly hoog, of jy een, twee of drie onderliggende siektes het.

“Ons is ook nog nie seker wat ál die faktore is wat verseker dat ’n gesonde persoon oorleef nie.”

Oor herstel sê Puren: “As jy binne 24 uur op dag 10 nie koors het of medikasie daarvoor neem nie, kan ’n mens sê jy’t herstel.

“Dis ook nie ongewoon om dan nog simptome te toon nie. Dis omdat die virus die selle aangetas het en dié selle moet teruggroei. Jy’s wel nie meer aansteeklik nie.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus doen intussen ’n beroep op almal om waar hulle ook gaan, wat hulle doen en wie hulle ontmoet as lewe-en-dood-besluite te behandel. Want dit is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters