2 maande gelede
Covid-19: Wat jy moet weet
Corona Virus
Pres. Cyril Ramaphosa het maatreëls aangekondig in die stryd teen Covid-19.  ~ Foto ter Illustrasie

PRES. Cyril Ramaphosa het afgekondig dat die land vanaf Donderdag om middernag vir 21 dae onder lockdown sal wees.

Dié besluit is om die verspreiding van die dcorona-virus, Covid-19, te stuit.

News24 het dele van sy toespraak opgesom. Hier is wat jy oor die lockdown moet weet.

Hoekom 'n lockdown?

Ramaphosa het in sy toespraak verduidelik dat opofferinge en vinnige optrede lewens gaan red.

"Sonder beslissende optrede gaan die aantal mense wat aangesteek word, vinnig toeneem van 'n paar honderd tot tienduisende en binne 'n paar weke tot honderdduisende," het Ramaphosa gesê.

"Hoewel die maatreël 'n aansienlike impak gaan hê op mense se bestaan, ons samelewing en ons ekonomie, gaan die menslike verlies veel groter wees as dié optrede vertraag moes wees."

Wie word geraak?

Die lockdown gaan almal raak.

Niemand gaan vir 21 dae toegelaat word om hul huise te verlaat tensy dit onder streng beheerde omstandighede is nie. Dit sluit in om mediese sorg te soek, kos, medisyne of ander voorraad te koop asook om maatskaplike toelae te gaan kry.

Vir hawelose mense word shelters identifiseer wat voldoen aan die higiëne-standaarde en vir dié, wat nie in self-isolasie by die huis kan wees nie, is persele vir kwarantyn geïdentifiseer.

Watter besighede gaan oop bly?

Winkels wat gaan oop bly is apteke, laboratoriums, banke, noodsaaklike finansiële betaaldienste insluitend die JSE, supermarkte, petrolstasies en gesondheidsorgdienste.

Ramaphosa het ook gesê maatskappye wat benodig word vir die produksie en vervoer van kos, basiese goedere en mediese voorraad, gaan oop bly.

Mense wat nodig is vir die stryd teen die virus word ook vrygestel van die lockdown. Dit sluit in gesondheidswerkers, nooddienspersoneel en sekuriteitsdienste (polisie, verkeersbeamptes, militêre- mediese personeel en soldate).

"Dit sluit ook in dié wat betrokke is by die produksie, verspreiding en verskaffing van kos en basiese goedere, noodsaaklike bankdienste, die instandhouding van krag, water- en telekommunikasiedienste, laboratoriumdienste en die voorsiening van mediese- en higiëne-produkte.

Die weermag is ook ontplooi om seker te maak die maatreëls word geïmplementeer.

Strenger reisbeperkings

Suid-Afrikaners wat in die land aankom gaan vir 14 dae onder kwarantyn moet bly.

Internasionale reisigers wat van hoë-risiko lande kom, gaan eenvoudig teruggestuuur word.

Dié wat ná 9 Maart van hoë-risiko lande in die land aangekom het, gaan vir die 14 dae kwarantyntydperk in hul hotelle moet bly.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters