2 maande gelede
Covid-19 vat nie onnie se China-droom
Leersaam: Radcliffe vertel van sy ervaring in China.  ~ Theo Jephta

DIE wêreld was met ongeloof vervul toe die nuwe corona-virus einde verlede jaar in China uitbreek.

Min was daaroor bekend en dit het gelyk of dit mense net in China sou raak.

Toe Ryan Radcliffe (37) by ’n opleidingsentrum in China ’n werk kry, was dit ’n droom wat waar geword het.

Hy het Engels gaan onderrig en in die eerste week van Desember daar aangekom.

“By my aankoms in China was die (nuus oor die) corona-­virus nog nie bekend nie.

“Dinge het aanvanklik goed gegaan en ek het my tyd daar geniet.

“Skielik het almal egter maskers en handskoene begin dra.

“Hoewel dit ’n skrikwekkende ervaring was, het ek baie veilig gevoel,” sê hy.

Radcliffe vertel die owerhede was baie streng.

Die winkels wou hulle ook nie help as hulle nie ’n masker en handskoene gedra het nie.

Almal se temperatuur is ook gereeld geneem, vertel hy.

Volgens hom is China ver voor Suid-Afrika as dit by tegnologie kom.

Vir hom was dit ’n verrykende ervaring om daar te wees.

“Dis regtig ’n jammerte dat ek moes terugkeer.

“Dit was die moeite werd om die ervaring mee te maak en in China te bly.

“Ek het in Sjanghai gebly. Dit was absoluut wonderlik om ’n stad te sien wat ek nog net in films gesien het.

“Maar my gesondheid is belangrik.

“Ek het op 14 Februarie in Kaapstad geland.

“Nadat ek 14 dae in afsondering was, kon ek weer soos normaal in die Baai beweeg,” vertel hy.

Jammer

Radcliffe voeg by: “Ek is dankbaar teenoor die Here dat Hy my gesond gehou het.

“Vir die mense wat die virus opgedoen het, wens ek alle sterkte en gesondheid toe.

“Ek is baie jammer vir die duisende wat geliefdes aan die dood afgestaan het.”

Radcliffe het ook bygevoeg hy sal in die toekoms graag weer China toe wil gaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters