17 dae gelede
Covid-19 kos vrou dalk sig
Amper Blind: Roslind Chippendale (66) pleit vir haar oogoperasie. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

’N BEJAARDE vrou van Uitsig vrees sy gaan blind word omdat die operasie om katarakte van haar oë te verwyder, weens Covid-19 telkens uitgestel word.

Roslind Chippendale (66) sukkel al die afgelope vyf jaar met die katarakte.

Volgens Chippendale is haar operasie by die Tygerberg-hospitaal al verskeie kere uitgestel.

Chippendale sê: “Die operasie sou in April gedoen gewees het.

“Dit is toe weer tot Mei uitgestel. Nou moet ek weer einde van die maand bel om te luister wanneer hulle die operasie kan doen.

“Intussen verswak my oë by die dag. Ek kan niks sien nie.

“Alles is vaal voor my. Ek kan net my hande sien. Ek kan nie eens meer lees nie.

“Ek kan ook nie eens meer kos maak nie, want ek kan nie in die pot sien nie.”

Volgens Chippendale het sy twee weke gelede geval en haar knieë seergemaak.

Sy het artritis in haar knieë en wag ook al 20 jaar om ’n operasie daarvoor te laat doen.

“Maar die operasie op my oë is nou belangriker sodat ek my sig terugkry.”

Volgens Chippendale help dit nie sy dra ’n bril nie, want die katarakte moet eers afgehaal word.

By die Tygerberg-hospitaal is toetse gedoen en daar is gevind daar is bloed agter haar oë.

Chippendale sê: “My een oog is baie swak. Soggens kan ek nie my oë oopmaak nie.”

Maande

Volgens Mark van der Heever, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is alle nie- noodsaaklike operasies weens Covid-19 uitgestel om die druk op die gesondheidstelsel te verlig.

Van der Heever sê vir die volgende 12 tot 18 maande sal net noodsaaklike operasies gedoen word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters