29 dae gelede
Covid-19 is die minste worry
oppie end: Kathy Moss sê hulle het nie veel om te eet nie. Foto: mpumi kiva  ~ 

OUDTSHOORN. – ’n Vrou van die informele nedersetting Zone 14 buite die dorp sê dis maar ’n opdraandestryd sonder ’n sopkombuis om die armes hier te voed.

Kathy Moss (50) is een van die mense wat struggle om vir haar gesin kos op die tafel te sit.

Moss sê daar is groot armoede en werkloosheid in die gebied – en geen hulp van die owerhede nie.

Sy sê hulle is nou blootgestel aan honger én die corona-virus.

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is daar in April vanjaar R1 miljoen van sy fondse bewillig om kos-verligting aan die gebied te verskaf.

Hulle het sowat 11 000 aansoeke om hulp gekry, maar ongelukkig kan nie almal gehelp word nie.

Moss verduidelik dat sy as werklose, soos so baie ander mense, steeds wag vir daai R350 van die regering.

“Ek het nie meer hoop om die geld te kry nie,” sê sy. Sy deel haar eenkamer-shack met haar werklose boy­friend.

Volgens Moss is sy bang vir die virus, maar glo mense sal eerder van honger doodgaan as van Covid-19.

Op vlak 5 het hulle gehoop dat sopkombuise na die gebied sal kom. Maar nie eens ’n kospakkie het hulle bereik nie, sê Moss.

Nou is haar grootste worry hoe om die virus te beveg sonder kos of ’n ordentlike blyplek.

“Mense gaan dood voor die virus hulle vat,” sê sy.

En soos die koue vreet, maak Moss en haar boy­friend maar hout in die naaste bosse bymekaar om warm te bly.

Gehoop

Albei van hulle kry nie werk nie en hulle qualify ook nie vir pension nie, want hulle is albei te jonk.

Sy’t gehoop die relief fund sal help om kos en paraffien te koop. Sy wil nou met die munisipaliteit gaan praat.

Moss voel voedingskemas is nodig sodat mense kos in die maag kan kry voordat hulle gaan slaap.

Die plaaslike munisipaliteit het teen druktyd nie kommentaar gelewer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters