Verlede maand
Covid-19 eis dominee-cop
GEGROET: Talle polisielede is in skok oor die dood van Ghirshwin Muller. (39)  ~ Foto Verskaf

’N POLISIEMAN van die Bergrivier-distrik het sy droom om ’n dominee te word halfpad voltooi voordat dit deur Covid-19 kortgeknip is.

Sers. Ghirshwin Reagan Muller (39), ’n polisiebeampte van die Piketberg-polisie, is Maandagaand in die Mediclinic Paarl dood.

Hy is einde Julie in die hospitaal opgeneem waar hy hard teen Covid-19 geveg het.

Maandagaand het sy suster, Porchia Muller, op Facebook aangekondig dat Muller dit nie gemaak het nie.

“Familie en vriende, baie dankie vir julle gebede. Ons wil is nie God se wil nie. Ghirsh het ons verlaat om na sy ewige tuiste te gaan. Rus in vrede, my Boeta,” lees haar boodskap.

Muller, ’n pa van vier minderjarige kinders, is oorspronklik van Porter­ville, maar woon die laaste aantal jare in Piketberg met sy vrou, Maritza Muller.

Maritza was nie gister in staat om met Son te praat nie en het die media na haar man se jare lange vriend Ray van Rooy verwys.

Van Rooy, die burgemeester van Bergrivier, sê Muller se dood is ’n groot skok vir die streek. “Muller was baie betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte. Hy was ’n eerlike, opregte mens wat sy gewig agter elke organisasie gegooi het. Dit sluit sportgeleenthede, projekte oor gemeenskapsveiligheid, beskermingsprojekte en baie ander in.

“Hy het sy eie skoolskoene-projek gehad.

“Hy het seker gemaak dat kinders op plaasskole en plaaslike skole skoene aan hul voete gehad het. Dis rêrig ’n groot terugslag vir sy familie, die polisie en almal in die streek.”

HAPPY TYE: Sers. Ghirshwin Reagan Muller by sy gradeplegtigheid saam met sy vrou, Maritza, en prof. Reggie Nel, dekaan van die fakulteit Teologie by US. Foto: Verskaf

Polisielede van oor die Wes-Kaap het hulle by Van Rooy geskaar. Genl.maj. Jeremy Vearey, hoof van die speurders in die Wes-Kaap, het op Facebook gesê: Rus in eer, Muller. Vir eens het ek nie woorde nie. Ons het ’n ware dienskneg van die mense verloor, ’n waardige vegter in blou wat elke dag pligsgetrou teen die dood van die lig geveg het.”

Gevang

Muller het in 2015 met sy studies in teologie aan die Universiteit Stellenbosch begin. Sy droom was om ’n dominee te word.

Die fakulteit het ook sy skok in die sosiale media uitgespreek: “Hy was ’n uitstekende student en het reeds sy graad gevang. Hy was besig met sy nagraadse studies in teologie terwyl hy vier skofte ’n week gewerk het. Hy het sy gemeenskap bedien, maar sy droom was om eendag ’n predikant te word en dit was binne sy bereik, al was daar uitdagings.”

Muller is een van meer as 100 polisielede wat landwyd aan die virus dood is.

Meer as 10 000 lede het al die virus opgedoen.

’n Bron in die polisie sê die syfer groei aansienlik weens verskeie faktore wat ook die gebrek aan kommunikasie insluit.

“Die PPE-suits is ongelukkig nie praktiese drag vir ons lede nie.

“Ons vuurwapens, pepper spray en goed wat ons mee werk, kan nie onder so ’n suit gaan nie. Daar moet na alternatiewe drag gekyk word,” sê Son se bron.

Verder meen die bronne dat lede nie te lank by die huis wil bly nie omdat hul siekverlof en jaarlikse verlof daardeur gebruik word.

“Nou kom hulle siek werk toe en steek andere aan.”

Sers. Ghirshwin Reagan Muller (39)

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters