Verlede maand
Covid-19 eis bekende kerkman
So hartseer: Past. Trevor Trout, ’n steunpilaar van sy gemeenskap, het die stryd teen Covid-19 verloor.Foto: Melinda Stuurman  ~ 

IN DIE veld is daar baie blomme wat pragtig blom, maar hulle word nie altyd raak­gesien nie.

Só het die politikus en voormalige premier van die Wes-Kaap Peter Marais oor die oorlede past. Trevor Trout (65) van Retreat gesê.

Trout, ’n bekende kerkman, gemeenskapswerker en oud-raadslid, het Vrydag weens die corona-virus gesterf.

Trout was ook voorsitter van die bruinbemagtigingsbeweging wat bruin mense help.

Marais sê hy was kort voor Trout se dood by hom.

“Hy was ’n godsman en baie bekommerd oor armes. Hy het gesê ons moet iets doen teen armoede. Hy was betrokke in die gemeenskap en mense het opgekyk na hom en hy het gehelp waar hy kon. Hy het my gebel as hy nie mense kon help nie.”

Sy vrou, Phoebe, sê Trout het dinge kalmer begin vat omdat sy niere in 2018 begin ingee het.

“Hy het verlede week Sondag siekerig begin voel en hy is Dinsdag na die Constantiaberg-hospitaal gevat.

“Toetse is gedoen en hy het weer huis toe gekom. Donderdag het hy slegter gevoel.”

Sy sê Vrydagoggend het hy haar gevra om vir hom te bid.

“Hy het regop in die bed gesit. Toe ruk hy en val agteroor. Hy het daar gesterf.”

Marais sê hy verstaan nie hoekom Trout huis toe gestuur is nie.

“Hulle kon hom na ’n staatshospitaal gestuur het. Ek dien in die Wes-Kaapse Covid-komitee en daar ís hulp vir siek mense wat Covid het.

“As mense siek is weens Covid kan hulle net 112 bel en hulle sal gehelp word. Ambulanse is beskikbaar of mense sal op ’n ander manier gehelp word.”

Marais sê daar is genoeg suurstof in die Wes-Kaap beskikbaar vir mense wat sukkel om asem te haal.

Trout laat ses kinders – vier van sy eie – ses kleinkinders en een agterkleinkind agter.

Sy gedenkdiens is vanaand en sy begrafnis volg dan Saterdag.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters