28 dae gelede
Corona: Ná 55 dae weer tuis
VARS LUG: Mary Titus se geliefdes is baie dankbaar oor haar herstel.  ~ Foto Verskaf

’N VERPLEEGSTER van George is onlangs ná 55 dae uit die hospitaal ontslaan nadat sy die gevreesde Covid-19 opgedoen het.

Daar is lofsange gesing, gebede opgestuur en die trane het omtrént gevloei toe sr. Mary Titus uit die hospitaal ontslaan is.

Buite die hospitaal het dokters, verpleegsters, familielede en vriende haar soos ’n heldin ontvang.

Titus is ’n verpleegster in die kraamsaal by die George Provinsiale Hospitaal.

Marjorie Erasmus, ook ’n verpleegster by dieselfde hospitaal, het aan Son gesê dis nie bekend of sy die virus by die hospitaal opgedoen het nie.

Sy sê: “Toe ek hoor sy’s siek, was sy alreeds in die hospitaal opgeneem.”

Titus se dogter, Bronwyn, het omtrént in die sosiale media gespog oor die wonderwerk wat die Here in haar ma se lewe verrig het.

Haar Facebook-inskrywing lui: “Dis wat die Here kom doen het vir my ma!

“Sy was 55 dae in die hospitaal gewees. Hy het haar van Covid-19 genees.

“Ons kan net dankie sê vir onse God dat Hy haar vir ons gespaar het en sy teen die virus geveg het.

Opgewonde

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir onse God nie.

“Aan almal wat gebede opgedra het en ondersteuning gegee het, ons waardeer dit.”

Veronica Veltie was net so opgewonde oor Titus se herstel en kon die Here nie genoeg dank nie.

Sy skryf op Facebook: “Dankie, Here, vir U goedheid. Dankie vir haar lewe.

“Dankie vir die genesing. Al die lof en die eer kom U toe.

“Dankie, Here, vir antie Mary Titus. Mag net goedheid en guns jou volg al die dae van jou lewe.

“Mag die vrede en die liefde van die Here altyd op jou lewe rus. Spoedige herstel. Ons is baie lief vir jou.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters