15 dae gelede
Corona begin weer styg
KOMMER: Dr. Zweli Mkhize begin worry dat die mense te gerus raak met die pandemie wat steeds in ons midde is.  ~ Melinda Stuurman

DIE nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is bekommerd oor die moontlikheid van ’n tweede golf van die corona-virus-pandemie.

Die minister het gister­oggend in ’n TV-onderhoud sy kommer uitgespreek oor hoe inwoners sedert die begin van vlak 1 van die lockdown begin optree het.

Hy sê: “Dit lyk nou net omdat ons gesê het dis nou vlak 1, dink mense nie meer dat maskers op hul gesigte nodig is nie.

“Ons sien ook hoe mense paarties hou en by taverns drink sonder social distancing.

“En mense eet nou by die restaurante asof die corona-virus iets van die verlede is.”

Wat kommerwekkend is, is dat die daaglikse infeksiekoers gister vir die eerste keer in baie weke weer gestyg het. Meer as 1 500 gevalle is aangemeld.

Gisteroggend se amptelike besmetting was 1 575 landwyd.

Dit beteken daar is tans 692 471 bevestigde gevalle.

Daar is tans 50 926 aktiewe gevalle en 17 780 Suid-Afrikaners is reeds weens die corona-­virus dood.

Die herstelkoers is 90%.

Die regering het ook laas week begin om weer SMS’e landwyd na selfone te stuur om mense oor die gevaar van die pandemie te waarsku.

Mkhize het inwoners Sondagaand in die sosiale media gewaarsku om versigtig te wees.

Hy skryf op sy Twitter-blad: “Ons is wel op vlak 1, maar ons wil graag mense vra om die gevaar van Covid-19 ernstig op te neem.

“Hou aan om maskers te dra, om te sanitise, sosiale distansiëring toe te pas en alle protokolle na te kom wat ingestel is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters