28 dae gelede
Cele beloof: ons sal na julle kyk
Gegroet: Polisielede wat aan Covid-19 dood is, word nie ordentlik vereer nie. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

POLISIELEDE wat weens Covid-19-verwante siektes sterf, is ook helde wat aan diens dood is.

Die polisiediens sal mooi kyk na die geliefdes wat hulle agterlaat.

Dít is die boodskap wat die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, Vrydag via ’n regstreekse konferensie aan die lede regoor die land oorgedra het.

Cele sê meer as 5 000 polisielede landwyd is reeds positief getoets vir die virus. Van dié getal is 1 700 lede in die Wes-Kaap.

“Die virus het die wêreld omgedolwe en julle is nie gespaar nie. Julle is op die frontline geplaas en het hart en siel help baklei teen die onsigbare en dodelike vyand.

“Niemand het kennis gehad van hoe om met die virus te deal nie, maar julle het sterk gestaan en tot nou toe goed gedoen.”

Volgens Cele is die einde nog nie in sig nie. “Ons is nou in die hart van die storm. Die ergste word nog verwag. Ons is nie eens by ’n plek waar ons kan praat van ‘ná Covid-19’ nie.

“Nee, ons kan net praat van die nuwe normaal, alle protokolle volg en onsself bewapen met maskers en beskermende drag.”

Cele sê hulle het sedert die begin van die nasionale staat van inperking meer as 14 000 padblokkades gehou en derduisende onwettige operasies toegemaak.

“Ons het ook meer sigbaarheid bereik om seker te maak dat social distancing en ander reëls en regulasies gehoorsaam word.

Hy sê die polisie se fight teen misdaad en gendergeweld het ook nie in dié tyd verslap nie.

“Ongelukkig het ons ook victims geword en reeds 36 lede aan die dood afgestaan.

Bemoedig

“Dit sluit jou mees junior beamptes tot generaals in. Die ergste is dat ons nie ’n kans gegun word om hulle behoorlik te eer nie. Hul dood is eensaam en hulle word op ’n eensame manier gegroet.”

Cele het die ontslape polisielede se families bemoedig en gesê die polisie sal na hulle kyk, want die lede is aan diens dood.

Hierdie nuus het lede onkant gevang. Van die families van polisielede wat reeds dood is, is ook verras deur die nuus.

’n Polisievrou wat onlangs haar man, ook ’n lid van die polisie, begrawe het, sê dit is nuus vir haar.

“Ek het nie eens begrafnisgeld gekry nie. Laas het ek nog gehoor dit is nie deel van die Wet op die Polisie nie.”

Nog lede sê dié aankondiging is nuus vir hulle.

“Ons sal wag om te hoor wat ons hulpbronnebestuur hieroor sê,” het nog ’n lid laat hoor. “Ek sal dit glo as dit in swart op wit is.”

Cele het die lede bedank vir hul goeie werk.

“Ons sal sterker uit die storm kom,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters