Verlede maand
Byna 20 000 al ingeënt
REG VIR AKSIE: Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, kom vandeesweek by die Worcester-hospitaal aan voor die begin van die inentingsprogram se plattelandse been.  ~ Foto Verskaf

DAAR is nou reeds byna 20 000 gesondheidswerkers wat hul entstowwe deur middel van die Wes-Kaapse inentingsprogram ontvang het.

Dié program kry stadig maar seker momentum in die provinsie namate entstofdosisse beskikbaar word.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het dié week die provinsiale inentingsprogram se plattelandse been in die Paarl en Worcester begin.

Luidens ’n persverklaring van die gesondheidsdepartement is die algehele doel van die inentingsprogram om kritieke siekte en sterftes te voorkom en om die gesondheidstelsel te beskerm.

Die eerste fase, wat tans aan die gang is, teiken veral hoë­risiko-gesondheidswerkers vir inenting.

Die gedagte agter dié benadering is om te verseker die gesondheidsdepartement is reg vir ’n derde golf wat dalk in die komende winter kan kop uitsteek.

Son het laas week berig die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, meen die derde golf kan nes die tweede golf ernstig wees – erger as die eerste ronde van die pandemie.

Die gesondheidsdepartement het tot dusver 25 960 dosisse as deel van Sisonke se Johnson & Johnson-implementasiestudie ontvang.

Teen gister was daar 19 879 entstofdosisse toegedien, lees die persverklaring verder.

Dit behels beide privaat en openbare gesondheidswerkers.

“Dit wil sê sedert 17 Februarie dien die departement byna 1 000 inentings daagliks toe.

“Soos meer vaccines inkom, sal meer inentingslokale oopgaan.”

Daar is tans agt inentingslokale in die provinsie, naamlik Gatesville Melomed, die Khayelitsha-distrikshospitaal, Karl Bremer-, Groote Schuur-, Tygerberg-, Worcester-, George- en Paarl-hospitaal.

Volgens die gesondheidsdepartement behoort die eerste fase van die inentingsprogram teen einde April afgehandel te wees.

Sowat 40% van die provinsie se gesondheidswerkers sal na verwagting in dié agt weke lange fase ingeënt word.

Meer essential werkers, bejaardes en mense met comorbidities sal na verwagting in die tweede en derde fases geteiken word vir inenting.

Afskop

Die algemene volwasse bevolking sal dan later, in die derde fase, hul inenting ontvang.

Die entstof is nie goedgekeur vir gebruik op kinders nie en diegene onder 18 jaar vorm nie deel van die inentingsprogram nie.

Die tweede fase van die inentingsprogram sal na verwagting in Mei afskop.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters