17 dae gelede
Byeenkomste rede vir Covid-toename
ramaphosa
Ramaphosa sê: "Mense moet onthou die virus beweeg nie self rond nie, maar word deur mense vervoer. Hoe minder ons rondbeweeg, hoe minder versprei die virus."  ~ Verskaf

SOSIALE byeenkomste is een van die grootste oorsake van die skielike toename in Covid-19-gevalle in die land.

Pres. Cyril Ramaphosa sê die ander grootste faktor is begrafnisse, sportbyeenkomste en skoolkampe.

Volgens die president is strenger maatreëls nodig om seker te maak daar word nie verdere druk op hospitale geplaas nie.

Suid-Afrika skuif vanaf 00:01 op Maandag 31 Mei na 'n aangepaste vlak-2 lockdown. 

Onder die veranderinge in die regulasies is die aandklok wat nou tussen 23:00 en 04:00 sal wees, met slegs noodsaaklike personeel wat in hierdie tyd buite mag wees.

Ramaphosa voeg by: "Dit beteken ook dat eetplekke, gims en ander kuierplekke teen 22:00 moet sluit om hul werkers toe te laat om by die huis te kom.

"Byeenkomste, wat insluit sosiale; geestelike en politieke byeenkomste word beperk tot 100 persone vir binne 'n venue en 250 vir buite-byeenkomste. Streng gesondheids- en veiligheidsmaatreëls moet ook toegepas moet word.

"Vir klein venues mag daar nie meer as 50% van die venue kapasiteit toegelaat word nie."

Begrafnisse mag steeds nie langer as twee uur wees nie en nagwake en "after-tears" mag steeds nie gehou word nie.

Die staatshoof beklemtoon dat dit belangrik is dat elke persoon 'n masker moet dra, wat die mond en neus toe maak. "Dit moet ten alle tye gedra word as jy in die publiek is en dit is 'n kriminele oortreding indien iemand dit nie dra nie."

Volgens Ramaphosa was daar die afgelope paar weke, ná maande van lae Covid-infeksies, 'n toename in daaglikse infeksies.

"Dit is ook belangrik dat diegene wa,  positief toets of in kontak was met 'n positiewe geval by die huis moet self-isoleer en in kwarantyn gaan, vir tien dae."

Ramaphosa sê: "Die impak van die derde vlaag sal bepaal word deur die kontak wat elke individu met 'n ander persoon het.

"Mense moet onthou die virus beweeg nie self rond nie, maar word deur mense vervoer. Hoe minder ons rondbeweeg, hoe minder versprei die virus."

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters