27 dae gelede
Bon voyage, sers. Brandon!
groot gemis: Pauline Bon sê haar man het nie geweet hy was in noue kontak met iemand wat Covid-19 gehad het nie. Foto’s: MELINDA STUURMAN  ~ 

MOENIE wag tot dinge te erg word nie.

As jy weet daar is ’n kans dat jy Covid-19 opgedoen het, moet jy gou speel om getoets te word en die nodige behandeling te kry.

Dít is sers. Pauline Bon, ’n polisievrou, se raad aan ander polisiebeamptes en die publiek nadat haar man, sers. Brandon Bon, Sondag aan die virus dood is.

Bon was die hulpbronne-bestuurder by die Ravens­mead-polisiestasie.

Pauline sê haar man het nie geweet dat hy in noue kontak was saam met iemand wat die virus onder lede het nie.

“Hy was nie ’n siekerige mens nie, maar hy het aan hoë bloeddruk gely. Ek het hom op Saterdag 6 Junie na die Mediclinic Louis Leipoldt geneem. Op 9 Junie het die hospitaal laat weet dat hy longontsteking het.”

Daar is in die hospitaal vasgestel Brandon het Covid-19 opgedoen.

Die Bon-egpaar was 13 jaar getroud en het twee minderjarige kinders, Luke (6) en Faith (7).

“Ons was 16 jaar saam. Dit voel of ’n stuk van my hart net uitgeruk is. Die ergste is dat daar nie tyd was om te groet nie. Ek kon hom nie eens versorg in sy laaste ure nie.

“Ek sal nooit weer die sweetdruppels van sy kop af kan vee nie.”

Sy sê die kinders begryp nog nie die volle impak van hul pa se dood nie en vra gereeld wanneer hulle hom weer kan sien.

Bon se kollegas, bure, vriende en familie het hom gister by ’n hartroerende drive-by memorial gaan groet en hul medelye aan sy gesin en sy ma, Alida Bon, betoon.

Karre

’n Groot klomp mense het in hul karre opgedaag en ruikers en ander items voor die egpaar se huis in Rose-weg neergesit, terwyl ’n band gespeel het.

Meer as 1 000 polisie­beamptes in die Wes-Kaap het Covid-19 onder lede.

Altesaam 14 polisielede is reeds aan die virus dood.

Die manne en vroue in blou is nie happy daarmee dat hul ontslape kollegas se families nie dieselfde voordele as andere kry wat hul lewe aan diens verloor nie.

“Dit is eintlik onregverdig, want die meeste lede tel die virus by hul werk op,” het ’n lid gesê.

Pauline is negatief getoets vir Covid-19. Haar man word Sondag begrawe. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters