9 dae gelede
Boland Rugby begin jab-veldtog
thurlow marsh
Thurlow Marsh, kaptein van die Boland Kavaliers, sal ook deelneem aan Saterdag se aktiwiteite.  ~ Mark Ward

TEEN Donderdagmiddag was net meer as 3 miljoen mense in die Wes-Kaap ingeënt. 

In die Kaapse Wynland-distrik het 391 492 mense reeds 'n jab gekry.

Ondanks die syfers is die Boland Rugbyunie bekommerd oor huiwering onder rugbyspelers en lede van die sportgemeenskap.

Bennie van Rooi, president van die unie, sê in 'n verklaring: "Ons is van mening dat die enigste manier om die Covid-pandemie te bekamp en na normale sportaktiwiteite en wedstryde met toeskouers terug te keer is deur lede van die sportgemeenskap aan te moedig om die jab te kry." 

Die unie vat die komende naweek hande met die Wes-Kaapse departement van gesondheid met die bekendstelling van 'n inentingsveldtog by Boland-stadion.

Adv. Willie Small, projekkoordineerder van die unie, verduidelik dat rugbyspelers en toeskouers ook Saterdag tussen 11:00 en 14:00 by die stadion hul jabs sal kry.

"As unie is ons oortuig dat sportfederasies inisiatief aan die dag moet lê om sportmanne en vroue, maar ook toeskouers, aan te moedig om die entstof te kry." 

Hy noem dat die unie beplan om die Covid-inentingsprogram saam met die departement van gesondheid ook na ander distrikte te neem en moedig ander rugbyunies en sportkodes aan om hul voorbeeld te volg.

"Behalwe ons pleidooi aan die sportgemeenskap om die jab te kry, vra ons ook gemeenskappe om nie die fopnuus wat op sosiale media versprei word oor die entstof te glo nie.

"Oorweeg liewer die volledige wetenskaplike bewyse oor die positiewe impak van die Covid-inenting en neem 'n goed ingeligte besluit oor jou gesondheid en veiligheid."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters