13 dae gelede
Bierbedryf se doppie geklap
BITTER DAE: Lethu Tshabangu (regs), eienaar van Ukhamba Beerworx, sien rooi oor die verlenging van die verbod op alkoholverkope. By hom is die akteur Thapelo Mokoena.  ~ Foto Verskaf

PRES. Cyril Ramaphosa red mense van Covid-19 – net sodat hulle van hongerte moet sterf.

Só meen biervervaardigers nadat die verkoop van drank in vlak 3 van die lockdown verleng is.

Die Beer Association of South Africa (Basa) sê in reaksie op Ramaphosa se toespraak Maandagaand hy verwerp die verlenging van die verbod op die verkoop van alkohol.

Volgens Basa sal die meeste craft-biermakers nie die verlengde verbod oorleef nie.

Lethu Tshabangu, eienaar van Ukhamba Beerworx, sê ál die geld wat hy die laaste paar jaar uitgegee het om sy klein besigheid te open, loop nou in die drein af.

Volgens hom sit hy nou met R300 000 skuld omdat hy nie kan bekostig om rent te betaal vir die taproom wat hy onlangs by die V&A Waterfront geopen het nie.

Tshabangu sê: “Ons moet Covid-19 bekamp sonder om ander vure aan die brand te steek.

“Die president beskerm ons nou teen Covid-19 net sodat hy ons met hongerte kan doodmaak, want ons mag nie werk nie.”

Apiwe Nxusani-Mawela, die land se eerste swart vrou in die brouery-bedryf, sê sy loop ook die gevaar om alles te verloor weens die voortslepende verbod op die verkoop van alkohol.

Nxusani-Mawela het vroeër gesê sy hoop om weer dié maand te kan open sodat sy haar werknemers einde van Januarie hul salarisse kan betaal.

Basa sê in ’n persverklaring: “Sowat 30% van local brouerye is reeds gedwing om hul deure permanent te sluit en sowat 165 000 mense het hul job verloor.

“ ’n Verlengde verbod van die verkoop van alkohol sal baie van die oorblywende klein besighede vernietig.

“Dit sal ook ongekende skade aanrig aan die local bierbedryf in die algemeen, en in die 415 000 lewens wat dit support.

Herstel

“Sowat 100 000 mense het reeds in armoede verval as gevolg van die verbod op die verkoop van alkohol.”

Volgens Basa sal die wettige biersektor heel moontlik nooit van die verbod herstel nie.

Basa meen verder die verbod op die verkoop van alkohol doen eintlik niks om mense te keer om drank te drink nie.

Al wat dit doen, is om die onwettige handelaars die geleentheid te gee om hulself verder te verryk, meen hy.

Basa se persverklaring lees verder: “Die Wêreldgesondheidsorganisasie het reeds voor Covid-19 geskat amper ’n kwart (24%) van die drank in Suid-Afrika word onwettig verkoop.

“Benewens die bande met misdadigheid kan die onwettige en ongereguleerde handel in en gebruik van alkohol gesondheidsrisiko’s inhou, byvoorbeeld blindheid, lewerskade en selfs die dood.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters