27 dae gelede
Bidders verminder saam met die dooies
HELP ONS: Die gebedsgroep het Sondag weer om hulp van bo gesmeek.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Slegs ’n handjievol mense het ­Sondag vir hulp teen Covid-19 gebid nadat dit in dié dorp drasties afgeneem het.

Die bidgeselskap het in Kerkstraat gebid en daarna het hulle die gebed by die hospitaal afgesluit.

Kort ná die harde ­lockdown het baie mense van die dorp hul lewe as gevolg van die gevreesde virus verloor.

Die mense het toe ­kliphard begin bid dat God die virus moet stop.

Hul gebede is skynbaar verhoor en hier was baie minder sterfgevalle.

Geroep

Jeremy Lucas, die koördineer­der, het met die idee vorendag gekom. Sy idee was dat die mense in gebed moet gaan en bid dat die pandemie tot ’n einde moet kom.

Lucas het ’n groot gebedgeselskap op die been ­gebring en hulle het deur die strate geloop waar ­mense op hul knieë gegaan het.

Hulle het tot God ­geroep dat die pandemie tot ’n einde moet kom.

Mario Stuurman, ’n ­gelowige wat ook aan die gebedsessies deelgeneem het, sê God het werklik hul gebede gehoor.

“Siedaar, Hy is goed en een van die dae is die virus iets van die verlede,” het Stuurman met geloof gesê.

Volgens hom moet die mense net by die reëls hou en aanhou glo dat die virus oorwin kan word.

Die afgelope Sondag kon ’n mens die bidders op jou vingers tel.

Samuel Syster sê dis ’n jammerte en dat ’n mens nie jou God net in jou swaar tye moet ken nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters