7 dae gelede
Besmettings trek al in die miljoene
UITPUTTEND: ’n Mediese werker in Djakarta, Indonesië, staan moeg en wag op ’n volgende pasiënt om te toets.  ~ Reuters

VYF miljoen.

Moontlik ’n bietjie meer.

Dís die getal mense wêreldwyd wat al met die corona-virus besmet is.

Dié getal is bereik binne vyf maande sedert die eerste sprak uit Wuhan in China gekom het van dié dodelike aansteeklike virus.

Oor die aardbol heen het sowat 328 000 mense gesterf terwyl sowat 1,9 miljoen al herstel het.

Volgens die Johns Hopkins Universiteit, wat die databasis vir die syfers hou, is die brandpunt-lande Amerika, Rusland en Brasilië, maar bevestigde gevalle bly in baie lande styg.

In Europa is daar ook ’n styging, maar teen ’n stadiger pas.

Swoeg

China is besig om te stabiliseer met syfers wat wys dat sy gevalle tans die laagste is sedert Januarie.

Daagliks swoeg gesondheidswerkers wêreldwyd en sommiges kan nie voorbly nie. Die ure en spanning is uitputtend.

Die doel is tans om die mees akkurate data moontlik te versamel sodat dit gebruik kan word om die virus beter te verstaan.

Dit sal ook aan wetenskaplikes die data gee om te gebruik in die ontwikkeling van ’n entstof.

Asof die virus nie erg genoeg is nie, het Bangladesj en dele van Indië ook pas ’n sikloon getrotseer, wat social distancing feitlik onmoontlik­ gemaak het. – Aljazeera

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters