22 dae gelede
Besigheid neem af weens corona
SUKKEL: Shahied Philander, vrugte-en-groentesmous van Bishop Lavis, sê besigheid is nie dieselfde nie.  ~ Jonathan Lestrade

PLAASLIKE sake-­eienaars gaan gebuk onder die uitbreking van die corona-virus.

Sedert pres. Cyril Rama­phosa Covid-19 tot nasionale ramp verklaar het, het besigheid omtrént afgeneem.

Selfs Bishop Lavis se pille collectors was gister ontsteld toe hulle nie hulle kliënte se pille by die daghospitaal kon kry nie.

Slegs 20 pasiënte is op ’n slag in die daghospitaal toegelaat nadat Ramaphosa besluit het daar mag nie meer as 100 mense op een plek byeenkom nie.

Rosemary Erasmus, wat al 17 jaar pille by die daghospitaal kom afhaal, was in trane toe die sekuriteitsbeamptes haar by die hek voorkeer.

“Dis my brood en botter dié. Ons help oumense wat nie in staat is om hulle eie medikasie te kom haal nie.

“Daar word nou vir ons gesê ons moet buite wag. Ons weet nie eens of hulle ons ooit gaan binne toelaat nie.

Reëls

“Ons moet nou hoor dat ons die mense is wat dalk die virus kan dra,” vertel Erasmus huilend.

Jeremy Juries, nog ’n pille collector, sê hy weet dis reëls, maar daar moet aan hulle ook gedink word.

Hy vaar uit: “Die mense is siek en moet vir ure wag om hulle pille te kry.

“Hier is mense wat al flou geval het van heeldag hier sit en wag. Ons help maar net die mense.”

RISIKO: James Goodwin stel sy klante gerus deur ‘n masker te dra en met hand sanitiser rond te ry

Berenice Hurling sê die daghospitaal beter reëlings tref in die toekoms sodat hulle kan weet waar hulle staan wat hulle werk as pille collectors betref.

  • Taxi-eienaars se wind is ook uitgeslaan deur die nuwe corona-virus.

James Goodwin, ’n taxibaas, sê sy taxi is nie meer so propvol gelaai soos ander dae nie.

Hy sê hy kom agter minder mense ry taxi. Goodwin verduidelik: “Hier is baie minder mense. Besigheid is glad nie meer so goed nie.

“Dis ’n bekommernis, want ons kinders moet eet.”

Goodwin sê sy kliënte hoef nie bekommerd te wees nie, want hy dra gereeld gloves en ’n masker.

Hy het ook deurentyd hand sanitiser by hom.

Son het ook ’n draai by Wenming Yan, ’n Chinese winkeleienaar in Bishop Lavis, gemaak.

Buitemense

Voordat jy sy winkel binnegaan, is daar plakkate opgeplak wat mense bewus maak van Covid-19 en hoe om jou teen dit te beskerm.

Hy en al sy werkers dra ook maskers en gloves.

Volgens Yan ondersteun Bishop Lavis se mense gereeld sy winkel.

Hy het wel opgelet buitemense van ander areas kom nie meer na sy winkel toe nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters