16 dae gelede
‘Begrafnisreëls is belangrik’
GEHOORSAAM: Die Stad doen ’n beroep op die publiek om die begrafnisregulasies te volg.  ~ Jonathan Lestrade

GEGEWE die aantal sterftes as gevolg van Covid-19 en die toenemende vraag na begrafnisdienste, word die publiek gevra om die regulasies te respekteer.

Die publiek word ook gevra om by hul toegewese tye en aantal besoekers te hou om die risiko van oordrag te verminder en om die nodige bedagsaamheid te toon vir ander wat die begraafplase moet gebruik.

Dr. Zahid Badroodien, mayco-lid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Stad Kaapstad is bekommerd dat sommige lede van die publiek die nasionale regulasies rondom begrafnisse verontagsaam wat tydens die Covid-19-pandemie in werking gestel is.

Die regulasies is bedoel om die risiko van blootstelling aan die virus te beperk, nie net in die hantering van oorskot van Covid-19-gevalle nie, maar ook in die manier waarop begrafnisdienste en begrafnisse gedurende hierdie tyd gehanteer moet word.

Kommer

Badroodien se hoewel die beperking op die aantal persone wat begrafnisse bywoon 50 is, was daar al talle gevalle waar dié regulasie nie nagekom is nie.

“Die nie-nakoming van begrafnisregulasies is ’n groot bron van kommer.

“Daar was talle gevalle van oordrag wat uit begrafnisdienste spruit, so, die omvang van die byeenkoms en die vermoë om sosiale distansie te behou, is in hierdie opsig belangrik.

“Die tydstelling van begrafnisdienste is ook ’n probleem. Ons het al gevalle gehad waar ’n begrafnisstoet laat by die begraafplaas opdaag, wat vertragings en gevolge het vir die aantal begrafnisse wat op daardie dag geakkommodeer kan word,” sê Badroodien.

Hy sê statistieke toon dat Saterdag die voorkeurdag vir begrafnisse bly, maar daar kan meer gedoen word om ’n meer eweredige verspreiding van begrafnisse deur die week te verseker. Dit sal verdeker dat die Stad steeds waardige begrafnisgeleent­hede aan almal kan bied.

Toeken

Bad­roodien verduidelik dat die huidige riglyne bepaal oorledenes wat aan Covid-19 gesterf het, moet binne drie dae ná hul dood begrawe word.

Ander oorledenes moet binne 10 dae begrawe of veras word. Op dié grondslag sal die besprekingskantore begrafnistye toeken.

Hierdie aanbeveling is bedoel om opeenhoping te vermy en lykhuise so gou moontlik te help om liggame uit te kry vir begrafnis.

“Ons bedank die gesinne en ondernemers wat op ons oproepe gereageer het.

“Elke bietjie help en dit is uiters belangrik om die druk te verminder op ons begraafplase waar daar Saterdae begrawe word.

“Ons verstaan dat begrafnisse op weeksdae nie die norm is nie, maar ons werk onder ander omstandighede en daarom moet ons nuwe maniere vind om dinge te doen om te verseker dat ons aan almal ’n geleentheid kan bied om hul geliefdes te laat rus,” sê hy.

Badroodien voeg by dat dit belangrik is om daarop te let dat die Stad tans voldoende kapasiteit by sy begraafplase het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters