Verlede maand
Baie lof vir skerp polisielid
Ghirshwin Muller (39)  ~ Foto Verskaf

’N VARS briesie vir die polisie, ’n getroue Christen en elke ma se droom-skoonseun.

Dít is hoe baie van sers. Ghirshwin Muller van Piketberg se kollegas hom gister op sy gedenkdiens beskryf het.

Muller is Maandag oorlede in ’n hospitaal in die Paarl, waar hy die laaste paar weke vir Covid-19 behandel is.

Sy stasiebevelvoerder, lt.kol. Ayanda Zimba, het op die gedenkdiens gesê Muller was ’n spanspeler wat baie trots was op sy stasie en hy het die Piketberg-gemeenskap met trots gedien.

Zimba het bygevoeg: “Ironies genoeg was sy laaste gemeenskapsprojek saam met die Bergrivier-munisipaliteit se burgemeester, juis een oor die bewusmaking van Covid-19.”

Hy het gesê Muller het hom op 29 Julie laat weet hy toon ál die Covid-simptome, maar hy wag nog op sy uitslae.

“Dieselfde aand het hy laat weet sy uitslae is negatief en dat hy so dankbaar is,” het Zimba vertel. “Hy het ook gesê hy is geworry oor sy kinders.”

Muller is egter op 1 Augustus toegelaat in die hospitaal, waar hy positief getoets is vir die virus.

Bemoedig

Zimba het gesê: “Ons was deurgaans in gesprek en hy was gretig om werk toe te kom om die dorp skoon te maak.”

Zimba het Muller se vrou, Maritza, wat ook vir Saps werk, bemoedig om haar kop omhoog te hou.

“Jou lewe is nie meer normaal nie en sal nooit weer wees nie,” het hy gesê.

“Ons het ’n great kollega verloor.”

ONDERSTEUN: Maritza Muller, Ghirshwin Muller se weduwee word hier getroos deur haar man se ouers, Elaine en Pierre Muller. Foto: Melinda Stuurman

Muller se kollega sers. Izette Afrika het namens die A-skof gesê: “Muller was ’n rolmodel. Hy het gestaan vir wat reg is en hy was ’n master in die stryd teen social crime.

“Met sy verskeie projekte het hy die Piketberg-polisie op die map gesit.

“Jy het gekom en ’n verskil gemaak. Jou teenwoordigheid en stem sal gemis word, maar ons sal jou altyd onthou.”

Past. Mark Lintnaar, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het gesê Muller het baie vermag vir ’n 39-jarige.

“Hy het sy generasie ge­dien,” het Lintnaar gesê. “Op 22 Julie het Muller op sy Facebook gesê Covid-19 slaan nou te na aan die huis. Ons kan nou sê Covid-19 het in die huis geslaan.”

Instrument

Kapelaan Virgil Davids, wat die diens gelei het, het die lede van die Piketberg-polisie aangemoedig om Muller se voorbeeld te volg.

“God het hom as ’n instrument gebruik,” het Davids gesê. “Hy’t meer vermag as wat ou lede ooit gedoen het.”

Ná die gedenkdiens het die polisielede ’n erewag vir Muller se ouers, Elaine en Pierre, Maritza, en ander familielede gevorm.

Volg ook sy begrafnisdiens hier

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters