5 dae gelede
Baie klaar op job van diep skrop
mary banda
Mary Banda  ~ Jonathan Lestrade

“DIS ’n groot kopskuif.”

Só sê Mary Banda, hoof van Klein Nederberg Sekondêr in Paarl-Oos. Banda is besig om haar skool gereed te kry vir die heropening op 1 Junie.

Sy sien uit daarna om haar leerders sowel as die opvoeders te verwelkom.

“Dis glad nie ’n maklike taak om die skool onder dié omstandighede voor te berei vir oopmaak nie.

“Maar ons moet, en ons is klaar besig om dit te doen.”

Banda sê die skoolbestuur is besig om ’n plan op te trek om te verseker dat hulle by die regulasies hou.

“Wanneer onderwysers terugkeer skool toe, sal hulle almal opgelei word vir werk tydens die nuwe normaal,” sê Banda.

Die onderwysers sal almal handskoene, maskers en hand sanitiser ontvang.

Banda sê die skool word tans daagliks skoongemaak.

“Ons het gewag op skoonmaakmiddels, maar ons kon nie meer wag nie en ons het ons eie gekoop. Ons oefen alles wat van ons verwag word en ons maak gebruik van die operasionele plan wat aan ons verskaf is.”

Banda sê met 230 matrikulante wat moontlik almal gaan terugkeer skool toe, word baie spesifieke regulasies in werking gestel.

“Ons sal ál die leerders buite die hekke met ’n masker verwelkom en hul temperatuur meet.

“Hulle sal ook gebruik maak van die hand sanitiser wat ons by die skool sal hê.”

Banda sê hulle werk ook aan ’n nuwe skoolrooster om te verseker dat leerders so min moontlik tussen klasse beweeg.

“Ons verkies dat die onderwysers stap na die klas waar hulle ’n les moet gee eerder as om die leerders te laat rondbeweeg.”

Snoepie

Die 230 gr. 12-leerders sal in 14 klaskamers ingedeel word.

Die bestuur stel ook ’n toilet-, gange- en besoekrooster op om die social distancing te bestuur.

“Ons fokus is op akademie. Daar sal geensins sport- of enige ander buitemuurse aktiwiteite wees nie.

“Ons gaan ook nie die snoepie oopmaak nie,” sê sy.

Hermanus Mouwers, Uitsig Primêr se skoolhoof, sê ook hulle is besig met die basiese skoonmaak van die skool.

“Ons het nie skoonmaakmiddels ontvang nie. Geen sanitisers, nog niks. Die boodskap wat ons kry, is dat ons dit binnekort sal kry, maar ons weet nie.”

Mouwers sê hulle gaan maar voort om na die drukpunte te kyk en hulle maak skoon om die veiligheid van die kinders en onderwysers te verseker.

“Ons trap deur die regulasies en voorskrifte wat ons gekry het ons seker te maak almal is veilig.”

Mouwers sê die gr. 7-leerders gaan in twee groepe verdeel word.

“Daar sal plus-minus 20 per klas wees, en hulle sal genoeg spasie tussen mekaar hê.

“Die rooster sal net aangepas word vir wanneer die gr. 6-leerders terugkom.”

Mouwers is vol vertroue dat die leerders sal terugkeer skool toe.

“Wat werklik gaan gebeur, is dat die onderwys nooit weer dieselfde sal wees nie. Die ruimte wat ons vir ons kinders skep, gaan vir ons tot ons voordeel wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters