Verlede maand
Baba sien nie haar mamma
GELIEFD: Azariah Morris het nooit haar mammie ontmoet nie, maar sy is omring met familie en vriende wat baie lief is vir haar.  ~ Jonathan Lestrade

“EK WIL huis toe kom, Mammie, ek wil huis toe kom...”

Só het Anishca Morris (24) van Ocean View aan haar ma gesê toe sy in die hospitaal was gedurende haar stryd teen Covid-19.

Maar die jong ma van twee het nooit weer huis toe gegaan nie.

Anishca het verlede week haar stryd teen die virus verloor. 

Hartseerste

Vir haar ma, Deidre Morris, is dit baie moeilik om te aanvaar dat haar enigste kind nie meer hier is nie.

“Krismis was die hartseerste tyd. Sy het vir my gesê sy wil huis toe kom.

“Ek het vir haar gesê sy moet aanhou veg en dit vir haar kinders doen.

“Sy het gesê sy kan nie meer nie en ek kon hoor sy sukkel om asem te haal.”

Deidre vertel haar dogter se heel laaste woorde aan haar voordat sy in ’n koma geplaas is, was: “Mammie, as ek dit nie hier uit maak nie, onthou – ek is lief vir julle almal.

“Dit was haar laaste woorde aan my; die laaste wat ek haar stem gehoor het.”

Sy vertel Anishca het op 9 Desember siek geword en sy het haar na die Vishoek-hospitaal geneem.

Anishca het op 13 Desember die lewe geskenk aan haar tweede kind, ’n fraaie babadogtertjie, Azariah.

“Sy het my geskakel en gesê hulle vat haar Groote Schuur-hospitaal toe.

“Hulle gaan die baba uithaal, want die baba het nie genoeg suurstof gekry nie.”

Deidre sê haar dogter het nooit haar babadogtertjie ontmoet of eens die kans gehad om haar vas te hou nie.

“Ek het vir haar ’n foto gestuur. Dit is hoe sy haar gesien het.”

FAMILIE: Anishca Morris se seun, Azaiah (4), haar ma, Deidre, en baba, Azariah. Foto: Jonathan Lestrade

Sy vertel toe Anishca in die ICU was, het sy elke dag geskakel om te hoor hoe dit met haar gaan.

“Hulle het vir my gesê sy is kritiek, maar stabiel.

“Maandag (11 Januarie) het hulle my geskakel om te sê dit gaan nie goed met haar nie en hulle het gesê ek kan inkom om haar te sien,” sê sy.

Opgeswel

Deidre vertel sy’t die Dinsdag hospitaal toe gegaan.

“Ek het nie my kind herken nie. Sy was opgeswel en onder pype.

“Hulle het my Woensdag geskakel en my gewaarsku dat sy dit dalk nie deur die nag sal maak nie.

“Ek het so ’n bietjie met hulle gestry en gesê dit is nie hulle wil nie, maar die Here s’n en ’n paar ure later om 02:00 kry ek ’n oproep van die hospitaal om my in te lig dat sy oorlede is.

“Sy was my enigste kind. Ek het hoop gehad dat sy daar sal opstaan en net voor haar sterfte bid ek en ek sien haar op die hospitaalbed en ek sien hoe die Here Sy hande op haar hande oor haar longe sit.

“Hy sê vir haar om op te staan en Hy omhels haar.

“Ek weet nie wat dit be­teken nie, maar dit was mooi,” sê sy met die hartseer wat vlak in haar oë sit.

’n Gedenkdiens is Donderdag vir Anishca gehou.

Haar begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters