Verlede maand
Aspen lewer eerste besending entstof
South Africa vaccine
Aspen het hul eerste besending Covid-19-entstof opgelewer.  ~ Getty Images

DIE eerste besending Covid-19-entstof om by die Aspen-aanleg in Gqeberha vervaardig te word, word vandag beskikbaar gemaak.

Aspen het Maandag in 'n verklaring gesê dis 'n belangrike mylpaal vir Suid-Afrika en die Afrika-vasteland.

Dis die eerste Covid-19-entstof om in Afrika deur 'n Afrika-vervaardiger vir Suid-Afrikaanse- en Afrika-pasiënte vervaardig te word," sê die maatskappy. Van dié voorraad gaan ook aan die Europese Unie en ander buitelandse markte beskikbaar gemaak word.

Die entstowwe gaan nou in ooreenstemming met verspreidingsooreenkomste van Johnson & Johnson, die departement van gesondheid  en ander rolspelers versprei word. Van die dosisse gaan ook aan die Afrika-entstofverkrygingstaakspan beskikbaar gemaak word.

Stephen Saad, uitvoerende hoof van die Aspen-groep, sê die maatskappy is trots op die rol wat hulle speel om entstowwe vir Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te vervaardig.

"Ons vermoë om die entstowwe namens Johnson & Johnson te vervaardig, bou op ons strategiese visie om hoë-gehalte en bekostigbare medisyne te lewer wat die uitkoms van ons pasiënte in ons land, vasteland en rondom die wêreld verbeter."

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het verlede week aan die portefeuljekomitee oor gesondheid, gesê 5,6 miljoen gesamentlike dosisse van die Pfizer- en J&J-entstof word in Augustus verwag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters