Verlede maand
Antie deel klappe uit oor guard se masker
VERONTWAARDIG: Derrick Damons vertel hy is behoorlik geklap net omdat hy sy masker laat sak het.  ~ Mpumi Kiva

MOSSELBAAI. – Iemand kan jou in jou tjops klap as jy jou masker nie reg dra nie.

Vra maar ’n plaas­like karwag wat ’n paar taai klappe van ’n ou antie gekry het.

Derrick Damons (23) van Asla Park, krap nog kop nadat die bestuurder van ’n Fiat Uno hom in ’n parkeerarea twee keer deur die gesig geklap het.

Dit het Woensdagmiddag gebeur toe die werklose Damons ’n geldjie in die parkeerarea wou maak deur parkeerplekke uit te wys.

Ander karwagte sê nadat die vrou Damons geklap het, het sy hom nog in die skool gesit oor die behoor­like dra van ’n masker wanneer jy in die openbaar is en met mense werk.

Damons sê hy’t sy masker laat sak toe ’n motoris in ’n ander kar op hom geskree het “sodat die ou in die ander kar my kon hoor praat.

Beveel

“Terwyl ek deur die karre geloop het, het die ou vrou op my geskree ek moet my mond en neus bedek.

“Ek het my nie juis gesteur aan wat sy sê nie, want ek was besig om ’n kar uit ’n parking spot te direct.

“Sy het toe reguit op my afgestap, my twee keer deur die gesig geklap en beveel om my gesig te bedek wanneer ek in die openbaar is,” sê hy.

Hy kla die ou tannie het geen reg gehad om hom te klap nie. “Ek dra altyd my masker, maar kon nie in dié geval nie, want die ou in die kar kon nie hoor wat ek sê nie.”

’n Vriend sê: “Ons was so geskok. Ons verstaan mense is bekommerd oor Covid-19, maar dis mos nie reg om iemand net te wil klap nie.”

Die karwagte sê hulle try net ’n living maak; dalk het iets anders die antie gepla.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters